Bethulie-skool moet nou woeker vir nuwe bus na brand

0
415
Die Pellissier- Gekombineerde Skool in Bethulie se bus het gistermiddag oppad na Colesberg aan die brand geslaan.

Die Pellissier- Gekombineerde Skool in Bethulie in die Vrystaat sal nou van voor af geld moet insamel om ’n nuwe skoolbus aan te skaf.
Die skool se enigste bus het gistermiddag sowat 10 km buite die dorp onverklaarbaar aan die brand geslaan terwyl die skool se rugby- en netbalspanne oppad was om in Colesberg aan wedstryde deel te neem.
Ciska Vermaak, ‘n onderwyser by die skool, het aan Bloemfontein Courant gesê dat dit ‘n baie hartseer oomblik is vir almal by die skool was omdat die bus, wat nou al baie jare deel van die skool was, vir hulle baie sentimentele waarde gehad het.
Vermaak sê op hierdie stadium weet hulle nog nie wat die brand veroorsaak het nie. Sy sê daar was sowat 55 leerlinge op die bus toe die voorval plaasgevind het.
“Van die kinders het ligte beserings opgedoen. Hoewel dit vir hulle ‘n baie traumatise ervaring was, lyk hulle oor die algemeen oukei. Een van die kinders is nog in die hospitaal en sal waarskynlik vir ‘n week daar moet bly, sodat hulle haar wonde kan monitor,” het sy verduidelik.
Sy sê die kinders het al hul besittings in die brand verloor, soos skooltasse, skoolskoene, tekkies en sweetpakke. Die hele rugbyspan se klere en rugbyballe het ook uitgebrand.
As mense ‘n skenking wil maak, kan hulle Vermaak by 084 795 8087/072 105 6215 bel of die skool in skoolure by 051 763 0012. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za