Bester gekroon as VS-padfietskampioen

0
784

RUFUS BOTHA

Norman Bester is Saterdag op die Tempe-lughawe in Bloemfontein gekroon as die Vrystaat-padfietskampioen in die 110km-wedren vir mans, 30 tot 49 jaar-ouderdomsgroep. Bester het nie net sy ouderdomsgroep gewen nie, maar in moeilike windtoestande algeheel eerste oor die eindstreep gejaag in 2:39:10.

Deelnemers wat ‘n uit-en-terug-roete (Dealesville-pad) moes baasraak, het met die omdraaislag die wind kwaai van voor gekry. Bester moes oor die laaste paar kilometer hard werk om ontslae te raak van Tat Brummer (2:39:14), wat in dieselfde ouderdomsgroep slegs vier sekondes agter Bester geëindig het. Brummer was algeheel ook in die tweede plek. Ryno Potgieter (30 tot 49 jaar) het self ‘n goeie wedren afgejaag deur algeheel derde (2:40:12) te eindig.

Hy het sodoende net-net voor die eerste elite-afdeling jaer, Karl Crouse (2:40:20), klaargemaak. 

In die 75km-wedren was daar geen keer aand Dirk Maarsingh nie. Hy was die enigste individuele deelnemer wat ‘n tyd van minder as twee uur kon vermag. Maarsingh, wat in die afdeling vir veterane-mans (50 tot 74 jaar) deelgeneem het, het die stophorlosie op ‘n puik 1:54,01 laat stilstaan. En, dit is meer as ses minute voor die silwermedaljewenner, Tim Oglesby (2:00:25), wat ook in Maarsingh se ouderdomsgroep (50 tot 74 jaar) deelgeneem het en algeheel tweede was. Wally Scott (50 tot 74 jaar) was derde in 2:00:38.

Adéle Jansen van Vuuren (75km, 30 tot 64 jaar) was een van die groot uitblinkers op die kampioenskap en het maklik onder die skoner geslag geseëvier. Sy het ‘n skitterende 2:00:38 afgetrap toe sy saam met Scott oor die eindstreep gejaag het. Jansen van Vuuren is gevolg deur Kirsten Jacobs (30 tot 64 jaar) wat 2:05:03 aangeteken het.

Gerhard Germishuys en Bennie Coetzer (1:49:52) het in die tandemwedren (75km) ‘n gerieflike oorwinning oor die span van Anthony Travers en David Walsh (1:53:50) behaal. Ernst Botha en Raymond Prinsloo was in ‘n interessante tweestryd gewikkel in die seuns (o.16) -afdeling. Botha (2:00:27) het Prinsloo (2:00:38) oor die laaste 2km afgeskud om te seëvier. Die Vrystaat-tydtoetsbyeenkoms (pad) is Sondag ook op Tempe beslis en hier het Michael Blignaut (36:26,28) ‘n klinkende oorwinning (38km) in die mansafdeling (o.23) behaal. Karl Crouse (elite-afdeling) was algeheel tweede in 41:04,62. Ryno Potgieter was in die 25km-tydtoets vir mans algeheel eerste toe hy ‘n tyd van 35:25,92 losgejaag het. Hy is gevolg deur Bester (36:19:24) en Jean Fourie (37:08:22). Janse van Vuuren was loshande weer baas onder die vroue en het ‘n noemenswaardige 41:37,31 afgejaag. Sy is gevolg deur Jayme-Sue Vermaas (46:18:41) wat in die junior afdeling vir meisies in aksie was.