Beskerm jou hart…en jou beursie

0
770

Horace Terry

September is Hartbewustheidsmaand en volgens die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika is daar elke dag ongeveer 130 hartaanvalle en 240 beroertes in hierdie land. Statistieke toon dat een uit drie Suid-Afrikaanse volwassenes hoë bloeddruk het, wat een van die grootste oorsake van hartaanvalle en beroertes is. Daar is verskeie leefstylkeuses wat jy kan uitoefen om jou risiko van hartsiekte te verminder, maar bitter min mense is finansieel voorbereid om ‘n ernstige gesondheidsterugslag te hanteer. Baie mense begaan die fout om te dink dat ‘n goeie mediese fonds genoeg is om hulle teen die finansiële implikasies van kardiovaskulêre siektes te beskerm. Hulle is geneig om te vergeet van die indirekte koste wat met ‘n hartaanval of beroerte en die herstel daarná, gepaard gaan. Moontlik sal jy ‘n tyd lank nie kan werk nie, afhangende van hoe ernstig jou toestand is en hoe lank die hersteltydperk is. In sommige gevalle het pasiënte maande nodig om te herstel, en die verlies aan inkomste kan finansieel verpletterend wees, veral as jy die hoofbroodwinner is. Miskien het jy ook uitgebreide terapie nodig en moet jy reiskoste na en van die hospitaal of ‘n sorgsentrum aangaan indien jy nie self kan bestuur nie. Gevreesdesiektedekking, wat ‘n enkelbedrag by diagnose betaal, kan baie help om reiskoste te dek, asook die koste van behandelings wat nie deur jou mediese fonds gedek word nie. En inkomstebeskerming sal jou gesin help om kop bo water te hou terwyl jy siek is. Inkomstebeskermingsdekking betaal ‘n maandelikse bedrag indien jy tydelik nie kan werk nie. Hierdie geld sal jou hele salaris of ‘n deel daarvan vervang en kan gebruik word om huishoudelike uitgawes en ander finansiële verpligtinge te dek totdat jy weer kan begin
werk. Met die regte dekking in plek kan jy gemoedsrus kry, en kans kry om op jou herstel te fokus. Pas jou hart op, maar maak seker dat jy dekking het.

Bron: Sanlam Artikels
* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Nassaux Blouster.