Besin oor die pad vorentoe

0
204
Photo: Moneyweb

Aandelebeurse lyk tot dusver oor die algemeen goed vir 2019. So ook die plaaslike aandelebeurs, die JSE Alle Aandele (sien meegaande grafiek).

Ons kan wel sien dat die blou lyn die laaste paar weke afwaarts neig nadat daar hernude spanning in die VSA en China se voortslepende handelsbesprekinge opgebou het. Plaaslike batebestuurders bly egter positief oor plaaslike aandele vir 2019 en ‘n mens kan dus verwag dat die blou lyn weer sal begin kop optel.

Beleggers in lewende annuïteite is egter steeds in ‘n mate van paniek vasgevang nadat hulle die laaste paar jaar swak opbrengste beleef het, en in hul kapitaal begin delf het vir hul inkomstebetalings (pensioen).

Die afwaartse beweging in die blou lyn het nou weer petrol op die paniekvuur gegooi. Heelwat van my eie kliënte wat in lewende annuïteite belê is, wil tans alternatiewe opsies ten opsigte van hul lewende annuïteite bespreek. ‘n Breë, algemene opmerking wat ek kan maak, is dat jy nie tans aan jou lewende annuïteit moet karring nie, behalwe dalk vir klein verstellings aan jou onderliggende bate-allokasie (blootstelling tot aandele, eiendom, effekte, kontant op die plaaslike en buitelandse markte).

‘n Groot voordeel van lewende annuïteite is juis dat dit jou seggenskap oor jou aftreegelde gee en ‘n wye verskeidenheid keuses en opsies bied. Vir party mense is die seggenskap en vryheid van keuses en opsies egter ‘n gevaar.

Sommige persone trek ‘n inkomste uit hulle lewende annuïteite om hul lewenstyl te finansier, eerder as om hulle lewenstyl by hul beskikbare inkomste aan te pas. Die gevolg is dat jy jou lewende annuïteit se kapitaal voortydig begin uitput, en die groot gevaar loop dat jy jou kapitaal gaan oorleef.Onstuimige markte gaan altyd daar wees. Die gevolg gaan altyd wees dat jy benoud en irrasioneel gaan begin raak. Die resultaat gaan wees dat jy gaan neig tot verkeerde beleggingsbesluite. ‘n Lewende annuïteit is dus ‘n belegging wat nie net altyd volgens jou lewenstyl se begroting gevorm moet word nie, maar ook volgens wat finansiële markte dikteer, positief of negatief.

‘n Feit is dat lewende annuïteite nie die geskikte produk vir alle persone met aftreegeld is nie. Jou unieke beleggersprofiel, en behoeftes sal bepaal in watter tipe produk jy moet belê. Behalwe vir lewende annuïteite, kry jy ook annuïteite met waarborge en ander unieke eienskappe.

Jy kan ook kombinasies van die verskillende annuïteite gebruik. ‘n Belangrike opsie wat lewende annuïteite jou bied, is dat jy in enige stadium na ‘n ander tipe annuïteit kan omskakel, maar nooit andersom nie.

Voordat jy egter sulke drastiese skuiwe maak, gaan gesels eers met jou finansiële beplanner. Indien jy die huidige marksiening van die top- batebestuurders wil ontvang, stuur vir my ‘n e-pos na horace@nassaux.com.