Besighede maak Pres. Steynlaan skoon

0
852
Personeel van Bfn Dental Care maak President Steynlaan in Westdene skool tydens 'n vorige skoonmaakoperasie. FOTO: PIETER DELPORT

Sake-eienaars en Momentum Financial Wellness Practice in President Steynlaan, Bloemfontein, het ter wille van hul kliënte, besoekers, toeriste en voornemende beleggers ‘n opruimingsveldtog begin met die hoop om aan belanghebbendes ‘n 5-ster-ervaring te bied wanneer hulle hul besighede in die Rosestad besoek.

Volgens een van die eienaars, Werner Schmidt, is daar vullis wat nie opgelaai word nie en die vullissakke word geskeur en vullis oor die sypaadjies en in die straat gestrooi. Dit het tot ‘n plan van aksie gelei deur by President Steynlaan te begin en soveel besighede en inwoners as moontlik te betrek.

Schmidt sê verder dat hul steeds die munisipaliteit verantwoordelik sal hou vir die oplaai van rommel en indien die rommel nie teen die oggend ná die weeklikse oplaai-dag verwyder is nie, sal die lede van die groep van die ‘President Steyn ACTION Avenue’ aangemoedig word om by die Mangaung Munisipaliteit se tolvrye nommer aan te meld en die verwysingsnommers en die oplaaidatum van die munisipaliteit te kry.

Hy sê dat hulle verlede week private kontrakteurs gekry het om die straat skoon te maak. ‘n 3-ton-vragmotor met verhoogde kante (in terme van volume) is gebruik vir die skoonmaakproses en was vol rommel wat nie voorheen opgelaai is nie. “Ons hoop om ‘n beweging in President Steynlaan te begin wat dwarsdeur Bloemfontein en die groter Mangaung sal groei om individuele strate skoon te maak.”

Schmidt sê dat hulle ook ander besighede in die stad wil nooi om betrokke te raak by die veldtog. Diegene wat belangstel, kan hom kontak by werner.schmidt@momentum.co.za of 064-141-4341.

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za