Bergh verlaat die Ixias

0
67
Pieter Bergh verlaat die Ixias na drie uitstaande seisoene om oor te neem as die nuwe Griekwas hoofafrigter FOTO: VARSITY SPORTS

‘n Reuse-slag het die Sentrale Unversiteit vir Tegnologie Ixias getref met die nuus dat hul hoofafrigter, Pieter Bergh, die span gaan verlaat.

Bergh is sedert 2018 die hoofafrigter van die Ixias in Bloemfontein en in sy tyd in die Rosestad het hy die span omskep van een wat elke seisoen geworstel het om die houtlepel te vermy na een wat ‘n sterk aanspraakmaker geword het op ‘n plek in die halfeindrondes van die Varsitybeker.

Die Ixias het dan ook daarinin geslaag om hul groot Bloemfonteinse teenstander, die Universiteit van die Vrystaat Shimlas, telkemale te klop.

Bergh sal terugtrek na Kimberley waar hy aangestel is as die hoofafrigter van die Tafel Lager Griekwas.

Hy het voorheen as hulpafrigter by dié unie gedien onder die destydse hoofafrigter, Peter Engeldow.

Toe Engeldow ‘n pos aanvaar het by die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai), was Bergh ‘n aanspraakmaker op die pos van hoofafrigter, wat toe aan Brent Janse van Rensburg aangebied is.

Die hoof- uitvoerende beampte van Griekwas Rugby, Arni van Rooyen, het aan Bloemfontein Courant gesê dat Bergh in sy afwesigheid by die Poubloues as afrigter gegroei het en nou slaggereed is om die rol oor te neem by Scott Mathie, wat op pad is na Amerika.

“Ons is baie opgewonde om aan te kondig dat Pieter Bergh voortaan ons nuwe hoofafrigter sal wees. Pieter was nog altyd ‘n uitstekende afrigter en ons het nog altyd net groot agting vir hom gehad in Griekwaland-Wes.

“Hy was vir ‘n rukkie weg na die Ixias toe waar hy sy afrigtingskuns verfyn het. Ons is baie opgwonde en ons sien uit na groot dinge. Ek dink hy kan die pad verder met ons stap en ons na ‘n vlak hoër neem op gebiede waar ons miskien tekortgeskiet het.”

Bergh het op sy beurt aan Bloemfontein Courant gesê hy weet wat by die Poubloues kort om die span van die Noord-Kaap aanspraakmakers te maak vir die Curriebeker.

“Ek kan nie wag om te begin nie en te bou op die momentum wat hulle gekry tydens dié Curriebekerseisoen nie. Die Griekwas is nou al twee keer in die afgelope drie jaar deur na die halfeindronde van die Curriebeker.

“Ja, ons gaan baie goeie spelers weer aan ander unies verloor, maar dit is niks nuuts vir die Griekwas om spelers te verloor nie. Daar is nou slegs drie spelers oor van die tyd dat ek die unie in 2018 verlaat het.”

Die Ixias het op hul beurt aangedui dat hulle reeds met die proses begin het om Bergh se opvolger aan te stel. Die naam van die Toyota Cheetahs se hulgafrigter, Malusi Mthethwa, is genoem, maar hy is egter ook met die pos as Shimlas se hoofarigter verbind.

Bergh se hulpafrigter by die Griekwas is die Oud-Vrystaatse- en Springbokslot, Barend Pieterse.

Hy neem oor by nog ‘n oud-Springbok, Albert van den Berg, wat na die Leeus toe is. – MORGAN PIEK