Beplan nou vir 2020

0
230

Die eerste paar dae van 2020 is agter die rug en nog niks dramaties het gebeur nie, behalwe vir spanning wat opbou tussen die VSA en Iran. Die ingeligtes glo dat die huidige situasie nie sal eskaleer na ‘n volle oorlog nie en dat dit maar net ‘n tipe van magspel is.

Verwag egter maar bietjie volatiliteit op die markte, asook beweging op die olie- en goudprys. Alles behoort egter (hopelik) nie te lank te vat om te bedaar nie. Oor ‘n moontlike oorlog in Iran het ek en jy geen beheer nie. Konsentreer dus eerder op iets waaroor jy wel beheer het, en dit is die beplanning van jou finansies vir 2020.

Ek moedig lank reeds Courant-lesers aan om te begin spaar op ‘n effektetrustfonds. Ek wonder hoeveel mense het dit al begin doen? Maak dit dalk jou eerste nuwejaarsvoorneme wat afgemerk kan word en implementeer dit sommer nog voor einde Januarie.

Finansiële beplanning kan ‘n intimiderende en oorweldigende taak wees wat vir jou lê en wag, veral as jy nog nie voorheen aan jou finansies en voorsiening aandag gegee het nie. Begin dus in 2020 net iewers en bou bietjie vir bietjie aan jou welvaart en welvaartbeskerming Begin by iets eenvoudigs soos ‘n huishoudelike begroting.

Probeer jou inkomstekant meer maak deur ekstra geldjies te verdien en jou uitgawekant minder te maak deur beter beplanning, besnoeiing en slimmer aankope te doen. Doen jou begroting nog in Januarie, tesame met die effektetrustfonds wat jy gaan uitneem. In Februarie kan jy jou testament uithaal en afstof.

Moet dit aangepas word, of is dit steeds in orde? Maak seker jou testament is wetlik en finansieel uitvoerbaar; jy gaan waarskynlik bietjie professionele advies hiervoor benodig. As jy klaar is met jou testament, sal jy weet hoe lyk jou voorsiening vir jou afhanklikes en die likiditeit van jou boedel, so in Maart kan jy aandag jou versekering gee, korttermyn- en langtermynversekering.

Maak seker jy en jou bates is korrek en voldoende verseker, en dat daar begunstigdes vir jou lewensversekering is, waar nodig. In April kan jy jou pensioenfonds aanpak. Gaan kyk dat jou geld belê word in lyn met jou beleggersprofiel en markverwagtinge en maak seker dat jy iemand benoem het vir die voordele in geval van afsterwe.

In Mei kan jy jou ander spaarprodukte (beleggings, uittree-annuïteite, ensomeer) bietjie hersien en regruk. Noudat jy opgedateerde inligting rondom jou algemene spaar en spaar vir aftrede het, kan jy in Junie bietjie aftredebeplanning gaan doen en vasstel of jy steeds op pad is om jou doelwitte te verwesenlik wanneer aftrede aanbreek.

Nou is my spasie vol vir die rubriek en daar is nog ses maande oor. Jy kry egter die idee, so maak Julie tot Desember vol met finansiële beplanning vir 2020.

Horace Terry

horace@nassaux.com