Benoude oomblik by Maselspoort

0
2638
Op 26 April het Bloemfontein Courant saam met Westline Aviation oor die Rosestad gevlieg om ’n beter beeld te kry van die watermassa by Maselspoort na berigte dat ’n sluis ingegee het. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Huiseienaars van die Maselspoort-oord langs die Modderriver het verlede Vrydag benoude oomblikke beleef. Huise wat onder die vloedlyn gebou is, was verlede week gedeeltelik onder water nadat een van die sluise van die dam ingegee het weens die swaar reën oor die afgelope tyd. Die massa water van die nabygeleë Mockesdam kon dus nie weggevoer word nie.

Die Mangaung Metro se woordvoerder, Qondile Khedama, het aan Bloemfontein Courant gesê dat die munisipaliteit nou ondersoek gaan instel om te bepaal hoedat mense dit reggekry het om huise daar te bou.

Foto verskaf.

“Dit is baie gevaarlik vir mense om daar te bly. Daardie gedeelte by die dam is net bedoel vir waterhulpbronne en niks anders nie,” het Khedama gesê.

Volgens hom maak die feit dat hulle daar gebou het, dit ook baie moeilik as soiets gebeur, want die nodige departemente sal nie by bewoners van huise hier kan uitkom om hulle te help nie. Die munisipaliteit gaan probeer om ‘n permanente oplossing te vind sodat dieselfde probleem nie weer opduik nie.

Khedama sê verder die munisipaliteit sou nooit mense toegelaat het om onder die vloedlyn te bou nie. Dit is dus baie belangrik om ondersoek in te stel en uit te vind wie aan hulle toestemming gegee het. Op die vraag waarom die dam leeg was aan die begin van die jaar, het Khedama gesê mense verstaan nie hoe die proses werk om ‘n dam skoon te hou nie, want dit is wat die munisipaliteit gedoen het. Die sluis het ingegee omdat dit nog deel van die ou infrastruktuur was. Hy het die versekering gegee dat die munisipaliteit sy bes doen om te verseker dat alles reggemaak word en met nuwe infrastruktuur vervang word. Die druk van die massa water wat ingestroom het, was eenvoudig te hoog. “Toe dit gebeur, het ons besluit om die sluis toe te maak omdat ons wou verseker dat niemand in gevaar is nie.”

Khedama het aan Bloemfontein Courant gesê dat alhoewel die sluis nog nie reggemaak is nie, alles by die dam stabiel is. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za