Beneke se opwaarste peil beïndruk

0
743
Die sterkgeboude verspringer van die Kovsies, Lynique Beneke, het Saterdag gewys dat sy gereed is om vanjaar met die beste seisoen van haar loopbaan vorendag te kom. FOTO: ACTION PHOTOS

Die Suid-Afrikaanse seniorvroue-verspringkampioen van die Kovsies het Saterdag op die Mangaung-atletiekstadion gewys dat sy gerat is vir die beste seisoen van haar loopbaan.

Haar opwaarste peil, gemeet aan haar wenafstand by verlede jaar se SA kampioenskappe, spreek boekdele en indien sy verder verbeter, behoort sy die land vanjaar (27 September tot 6 Oktober) by die wêreldkampioenskappe in Doha met sukses te verteenwoordig. En wie weet, dalk is ‘n sprong aan die anderkant van sewe meter vanjaar nie vergesog nie.

Beneke het Saterdag by ‘n hoërskolebyeenkoms, waar senior nommers ook op die spyskaart was, met ‘n paar puik spronge ontplof en het die toeskouers op die voorpunt van hulle stoele gehad toe sy met haar wenpoging van 6,59 m in die sand te lande gekom het. Sy sal egter in die omgewing van 6:80 m voor Doha moet spring om haar vliegtuigkaartjie vir die SA span te bespreek.

Saterdag se sprong is ‘n allermintige 37 sentimeter verder as haar wensprong (6,22 m) by die genoemde nasionale kampioenskappe in 2018.

Beneke, wat onder die wakende oog van die Kovsies se puik ver- en driesprong-afrigter, Emmarie Fouché, oefen, se oefenmaats, Michaela Wright (5,89m) en Moleboheng Pherane (5,61m), moes Saterdag met onderskeidelik tweede en derde plek tevrede wees.

Fouché het aan Bloemfontein Courant gesê: “Ek is baie tevrede met Lynique se huidige peil en vordering. Ons werk tans hard aan haar tegniek en sodra al die (spreekwoordelike) legkaartstukke, soos onder meer tegniek en krag, bymekaarkom, verwag ek ‘n uithalerseisoen van haar.”

Die 27-jarige Prinsloo het op haar beurt aan Courant gesê dat sy baie opgewonde is oor die seisoen wat voorlê en dat sy beplan om aan ‘n paar buitelandse byeenkomste deel te neem as voorbereiding vir die wêreldkampioenskappe. Haar beste afstand van 6,81 m het sy in 2013 vermag en in dieselfde jaar het sy SA tydens die wêreldkampioenskappe in Moskou verteenwoordig. Sy was ook in die Groen-en-Goud by die Olimpiese Spele (2016) in Rio de Janeiro in aksie.

Nog drie van Fouché se atlete wat goeie vertonings opgedis het, was Nobert Ponisammy, Peter Makgato en Sefako Mokhosoa. Ponisammy en Makgato het eerste en tweede in die verspring vir mans geëindig met goeie vertonings van onderskeidelik 7,57 m en 7,46 m.
Sefako het op sy beurt ‘n netjiese oorwinning van 15,92 m op die driesprong-uitslagkaart ingeskryf.

Die naelloper van Kovsies, Tsebo Matsoso, het Saterdag ‘n mooi tweekuns in die 100 en 200 m behaal. Hoewel dit geblyk het dat hy nie deurgaans voluit genael het nie, het hy steeds noemenswaardige tye van 10,63 en 21,37 aangeteken.

Hy word gebrei deur Ans Botha, die wêreldbekende afrigter van die wêreldrekordhouer in die 400m, Wayde van Niekerk.

Buiten vir Beneke, kon slegs Tsepang Sello (1500 m, 4:30,94) en Yolandi Stander (diskusgooi, 47,27 m) byeenkomsrekords in die senior nommers behaal.

Sello, wat Lesotho op die 2016- Olimpiese Spele in die 800 m verteenwoordig het, se uithouvermoë in die langer afstande (soos die 1500 m) en veldwedlope het met rasse skrede verbeter en dit sal nie as ‘n verrassing kom indien sy later beter gaan vertoon in die 1500 m as die 800 m nie. – RUFUS BOTHA