Ovaalbaanwedrenne is ’n motorsport vir adrenalien-verslaafdes en niks klop die vreugde en beloning van dié jaagtog na adrenalien nie – veral as jy deur fisiese beproewinge en struikelblokke in die gesig gestaar word.
Vincent Jones en Christiaan Bekker, beter bekend as ‘Trane’, het hulself oortref by die ovaalbaanwedrenne wat in Bloemfontein by die Schoemanspark-renbaan plaasgevind het.
Een van die Motorsport-spesialisregister (MSR) se beamptes, Wynand van Niekerk, het ook genoem dat dit ’n baie merkwaardige mylpaal vir Jones is, veral met sy gestremdheid.
“Wat hom laat uitstaan, is dat hy as gevolg van ’n gestremdheid nie die vermoë het om soos ander mense te leer en te skryf nie.
Hy moes alles mondelings leer en doen en moes steeds ’n 80%-slaagsyfer behaal het om sy lisensie te bekom.
“Saam met sy 100%-bywoning van alle wedrenne vir vyf jaar, is dit nogal merkwaardig en ’n eerste vir ’n Suid-Afrikaner.”
By hierdie geleentheid is Bekker ook vereer met volle Vrystaat-kleure as ’n motorsportbeampte. Hy het genoem dat hierdie oorwinning baie vir hom beteken omdat hy die hele jaar gery het, wat ’n groot prestasie is.
“Ek is geïnspireer deur die opwinding daarvan en die toejuiging wat ek van die toeskouers ontvang. Ek geniet eerlikwaar die toeskouers wat mal gaan wanneer ek wedrenne ry.”
Hierdie jaar is Jones ook vereer met volle Vrystaat-kleure as ’n motorsportbeampte. Om dit te bereik, moes hy minstens vyf jaar ’n beampte in die sport gewees het en vir vier jaar as ’n beampte in alle (100%) plaaslike klubwedrenne opgetree het.
Jones en Bekker het ook aan ten minste een nasionale wedren deelgeneem en is deur die nasionale raad goedgekeur.
Hulle gaan altwee binnekort deelneem aan die Klubkampioenskap wat op 2 Maart 2024 by die Schoemanspark-renbaan plaasvind.
Van Niekerk het ook genoem dat daar ’n aantal wenners in die Vrystaat was, insluitend Johann Pitout, wat streekkleure vir die Hotrods ontvang het en Allan Booysen wat ook streekkleure vir die AMS-span ontvang het.
Abigail Visagie