Beling behaal seldsame atletiekdriekuns

0
477
Tyler Beling (Kovsies) het verlede Saterdag ‘n seldsame atletiekdriekuns voltooi deur in goue medaljes in baan- veldwedlope en padwedlope by Suid-Afrikaanse juniorkampioenskappe in een kalenderjaar in te oes. FOTO: Hanne Naudé

Die haastige rooikop eerstejaarstudent van die Kovsies, Tyler Beling het verlede Saterdag in Middelburg die Suid-Afrikaanse 10km-padwedloop vir junior vroue op ‘n spreekwoordelike drafstap gewen en sodoende ‘n driekuns in atletiek behaal wat nie aldag gesien word nie.

Beling het in Middelburg geseëvier in ‘n mooi binnelandse tyd van 37:06 en met dié oorwinning die genoemde driekuns behaal deur in ‘n kalenderjaar Suid-Afrikaanse goue medaljes te verower in al drie atletiekdissiplines (baan, veldwedlope en padwedlope).

Sy het vroeër vanjaar die Suid-Afrikaanse titels vir juniorvroue in die 1500m (baan) haar eie gemaak en in September die Suid-Afrikaanse veldwedlooptitel vir juniorvroue ook loshande gewen.

Die 19-jarige Beling, het in Middelburg die tweede juniorvrou, Lisa Kellerman (Sentraal Gauteng, 38:11) met meer as ‘n minuut afgeslag. Kellerman is ook 19-jaar oud. Die 14-jarige Nadia Potgieter (Gauteng Noord) het ‘n moontlike goeie langafstand atletiektoekoms onderstreep deur derde te eindig in 38:56.

Beling se groot toets kom egter wanneer sy haar atletiek “babaskoene” (juniors) in 2019 moet verruil vir senioratletiek.

Sy het egter in Middelburg reeds gewys dat sy oppad is om volgende jaar haar kleim af te steek in die seniorafdeling deur algeheel vyfde te eindig. Lebogang Phalula (Sentraal Gauteng, 35:57) het die seniorvroue wedloop beklink en was ‘n raps meer as ‘n minuut voor Beling.

Phakiso Mthembu van die Qwa-Qwa kampus van die Kovsies het verseker dat die Kovsies beide die juniortitels in Middelburg verower het. Hy was bobaas in 31:00 en het die silwermedaljewenner, Penyo Chidi (Sentraal Gauteng, 31:01) in ‘n naeloop eindstreep toe die loef afgesteek. Thumi Lephoto (Sentraal Gauteng, 31:14) was sowat 80 meter agter Mthembu en Chidi vir sy bronsmedalje.  – RUFUS BOTHA