Belinda & Amy, die gewilde musiekduo, het onlangs ’n Afri Indie-toekenning gewen – ’n erkenning wat die afgelope jaar se werk bekroon het.
“Baie dankie vir Bloem se ‘support’, van elke klein ‘venue’ tot elke persoon wat agter ons staan.
“Ons voel raakgesien en geïnspireerd en deel hierdie toekenning met julle almal! Ons glo dat ons en ander kunstenaars van hier, vir niks hoef terug te staan nie en trots kan wees op ons werk,” sê die twee.
Die liedjie wat die toekenning ingepalm het, “Onsigbaar”, het sy oorsprong in die hartseer van mense wat deur gebroke verhoudings gaan, sonder dat ander daarvan weet.
“Ons skryf net soos dit na ons toe kom. ‘Onsigbaar’ weerspieël die pyn van verlore geleenthede en die situasie van ‘the one that got away’.
“Die ‘magic’ kom in die finale produk wanneer ons die liedjie bekend stel,” verduidelik Belinda & Amy.
Volgens die duo onderskei hulle hulleself deur hul unieke styl en instrumentasie, wat nie altyd hoofstroom is nie. “Ons is net onsself en doen dit uit ons harte.”
Met die toekenning as katalisator, beplan Belinda & Amy groter vertonings, insluitend ’n optrede saam met Francois van Coke op 6 September en nuwe projekte internasionaal.
“Ons wil positiewe energie by ons vertonings uitstraal en mense van alle vorms en sienings bymekaar bring,” sluit hulle af.
Justine Fortuin