Horace Terry
Ek het onlangs ‘n aanbieding van Coronation se fondsbestuurders bygewoon, waartydens Ian Bester inligting met beleggers gedeel het oor wat Coronation dink beleggers in 2013 moet doen om aanvaarbare opbrengste te bewerkstellig. Coronation het al hulle verwagtinge, data en kennis in 9 eenvoudige wenke saamgevat wat beleggers gerus kan volg.
Wenk 1: Wanneer dit by beleggingsbesluite kom, laat jou emosies buite rekening. Neem beleggingsbesluite wat suiwer op harde feite en betroubare data gebaseer is.
Wenk 2: Vergeet van historiese opbrengste, dis nie ‘n aanduiding van toekomstige opbrengste nie. Die wenk sal waarskynlik moeilik wees om te aanvaar vir diegene wat die afgelope 10 jaar geld in buitelandse beleggings gehad het. Dis egter presies wat die wenk vereis! Dit maak nie saak hoe buitelandse bates die afgelope 10 jaar presteer het nie, met die huidige waardasies op buitelandse beleggings lyk die geleenthede in die buiteland baie beter as plaaslik.
Wenk 3 en 4 loop hand aan hand: Wees bereid om ‘n mate van ‘n beleggingsrisiko te neem as jy inflasie gemaklik wil uitpresteer. Aandele bly die voorkeur-bateklas oor die langer termyn. Beskerm dus die koopkrag van jou geld deur gediversifiseerd te belê, met voorkeur aan groeibates, spesifiek aandele.
Wenk 5 loop hand aan hand met wenk 2: Buitelandse blootstelling as ’n verdere diversifikasie-instrument is ‘n moet. Moenie in die buiteland belê om die randwaarde teenoor ander geldeenhede te probeer time nie, jy gaan meer kere onsuksesvol as suksesvol wees. Belê in die buiteland slegs omdat jy ’n gediversifiseerde beleggingsportefeulje verder wil diversifiseer. Buitelandse blootstelling is verder ook belangrik aangesien daar na verwagting ’n aantal struikelblokke in die plaaslike ekonomie kan voorkom oor die volgende 10 jaar. Ek verwys spesifiek na groot begrotingstekorte, handelstekorte, stygende koste van infrastruktuur, lae produktiwiteit, toenemende inflasiedruk, ensomeer.
Wenk 6: Jy sal meer aandag aan jou beleggingsportefeulje moet gee. Aktiewe bate-allokasie, meer gereeld, sal jou kan help om deurlopend beter opbrengste te verdien. Oorweeg dit dus om kwartaalliks jou belegging se bate-allokasie in lyn te bring met ekonomiese verwagtinge. Dis hier waar Jenwil BlouSter jou kan help met ons bestuurde portefeuljes wat driemaandeliks hersien en herbalanseer word.
Wenk 7: Beplan vir hoër inflasie, dit is beslis op pad. Brandstof, elektrisiteit en voedsel gaan luukshede word. Posisioneer jou beleggingsportefeulje nou reeds reg, sodat jy nie onkant gevang word nie.
Wenk 8: Mense leef langer. Jy sal dus meer moet begin spaar, reeds nou al. Jy sal ook genoegsame beleggingsrisiko’s moet neem om te verseker dat jy genoeg kapitaal bymekaarmaak.
Wenk 9: Begin onmiddellik gehoor gee aan wenke 1 tot 8.