Beleggers, kom ons hou duimvas

0
447
Foto: Pngtree

Ons het ‘n tyd gelede gesels oor die G20-beraad wat einde November gehou is. Dié beraad was baie belangrik vir die verwagtinge wat beleggers vir 2019 kan koester, en natuurlik is Donald Trump en China spesifiek fyn dopgehou.

Dit is nou al ou nuus dat die voortslepende handelsoorlog tussen die VSA en China beleggers vuisvoos het en dat enige teken van positiewe nuus baie welkom sou wees. Op die G20-beraad is die gewone kwessies soos klimaatverandering, internasionale handel, korrupsie, geslagsgelykheid, ensomeer, bespreek.

Natuurlik is al die kwessies belangrik vir die internasionale gemeenskap, maar die gesprek tussen Donald Trump en Xi Jinping is met besondere belangstelling deur beleggers regoor die wêreld dopgehou. Almal het geweet dat Donald Trump nie sal bes gee nie en dat hy die tariewe wat hy reeds op Chinese invoerprodukte geplaas het, sal behou.

Gelukkig was die gemoedere tussen die VSA en China se staatsmanne “vriendelik”. Of dit aangeplak was of nie, weet ek nie, maar dit was ten minste reeds ‘n positiewe teken. Wat wel baie positief is, is dat die twee leiers ooreengekom het om ‘n “skietstilstand” vir 90 dae te handhaaf.

In dié tydperk sal verdere onderhandelinge plaasvind in die hoop om ‘n meer permanente oplossing vir die twee lande se handelsprobleme te bewerkstellig. Op die G20-beraad is daar darem reeds ooreengekom dat die VSA nie verdere tariewe op produkte uit China sal instel nie, in ruil daarvoor dat China meer landbou-produkte uit die VSA sal aankoop.

Aandelemarkte het die Maandag wat die G20-beraad gevolg het, reeds baie positief op die uitkoms van die gesprek tussen die VSA en China reageer en wêreldwyd het beurse sterk gestyg. Sekere batebestuurders meen dat aandelemarkte ‘n mooi lopie na die einde van 2018 kan hê. Die feit is egter dat aandelemarkte nog nie ‘uit die bos’ is nie, en baie hang af van wat die VSA en China aan die einde van die 90 dae-tydperk gaan kwytraak.

Al wat ek in dié stadium kan sê, is dat 2019 gaan volg op 2018. Of dit ‘n goeie jaar vir beleggers gaan wees of nie, op die oomblik is die welstand van jou belegging steeds in Donald Trump se hande.

horace@nassaux.com