Belastingvrye belegging by aftrede

0
717

HORACE TERRY

Laasweek het ons bietjie gesels oor die nuwe belastingvrye belegging wat sedert 1 Maart 2015 by die meeste finansiële instellings beskikbaar is. Ek het die opmerking gemaak dat die belegging nie gebruik moet word vir kort- en/of mediumtermyn spaar- of bleggingsbehoeftes nie, maar eerder aangewend moet word vir addisionele voorsiening by aftrede. Indien jy op die kort termyn geld uit die belegging gaan trek, sal dit wel belastingvry wees, maar jy gaan nie weer die geleentheid kry om dit terug te plaas in die belegging nie en jy kan duisende rande verloor aan saamgestelde rente. Die belastingvrye belegging is die ideale hulpmiddel om jou belasting-aanspreeklikhede by aftrede te beperk.

Kom ons kyk na die volgende voorbeeld. Piet is nou 30 jaar oud en belê sy volle vergunning van R30 000 per jaar in die belastingvrye belegging. Teen ongeveer ouderdom 46 bereik Piet die limiet van R500 000 vir sy leeftyd.

Saam met die groei oor die laaste 16 jaar, staan die belegging nou op net meer as R1 250 000. Piet kan egter nou nie meer geld by die belegging voeg nie, maar los die opgegaarde kapitaal in die belegging tot aftrede toe op 65, met ander woorde ongeveer 18 jaar verder. Teen ouderdom 65 het die R1 250 000 verder gegroei na ongeveer R7 700 000. Indien Piet in die stadium begin om ‘n inkomste van 6% per jaar vanuit die belegging te trek, sal hy ongeveer R38 000 per maand ontvang, belastingvry.

In vandag se geldwaarde, teen huidige inflasie, sal dit so min of meer R7 100 per maand wees, belastingvry. Nou sal die beplanning begin. Jy gaan waarskynlik ‘n inkomste uit ‘n pensioenfonds kry, of uit uittree-annuïteite, wat belasbaar gaan wees. Jy sal dus die kapitaal op jou belastingvrye belegging op so wyse kan aanwend dat jy minder uit jou annuïteite hoef te trek en eerder meer op jou belastingvrye belegging (al gebruik jy mettertyd van die kapitaal).

Op die manier sal jy heelwat minder of selfs niks aan inkomstebelasting hoef af te staan nie en dit sal weer opmaak vir die kapitaal wat jy op die belastingvrye belegging gebruik het. Onthou van die Boedel en Testamente- seminaar wat Nassaux BlouSter op 22 April aanbied. Toegang is gratis, bespreek egter jou plek by Sanita, deur haar te kontak by
051-430-0302.

* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Nassaux Blouster.