Belastingseisoen breek aan

0
Belastingseisoen breek aan

HORACE TERRY

Vir baie van Courant se lesers het die tyd aangebreek om weer hulle jaarlikse belastingopgawes in te dien. Vir van ons is dit ‘n goeie tyd, aangesien ons ‘n paar rand kan terug verwag vanaf die belastinggaarder.
Vir ander is dit ‘n minder goeie tyd, aangesien jy jou balans by SAID sal moet regstel, deur ‘n betaling aan hulle te maak. Soos gewoonlik moet jou dokumentasie in plek wees om te verseker jy voltooi jou opgawevorm akkuraat.
Kry dus die bewyse en sertifikate rakende jou renteverdienste, kapitaalwinste of -verliese, mediese uitgawes, reiskostes ensomeer gereed aangesien die SAID beter voorbereid is as ooit om elke sent moontlik uit jou te tap.
Die 2012 belastingseisoen het op 2 Julie afgeskop met SAID amptenare wat landswyd inligtingspamflette uitgedeel het om belastingbetalers in te lig oor wat van hulle vereis word.
Daar word verwag dat meer as 5 miljoen belastingbetalers oor die volgende paar maande hul opgawes gaan indien. Baie van ons is al vertroud met e-filing, en dien ons opgawes aanlyn in.
Hierdie jaar het SAID egter nog ‘n paar tegnologiese spronge vorentoe geneem. Jy kan jou opgawe ook op jou selfoon voltooi en indien, gaan laai net eers die betrokke SAID applikasie van die Internet af. Jy kan selfs ‘n video met riglyne oor hoe om jou e-filing opgawe in te dien op YouTube gaan kyk.
SAID het ook verskeie nuwe kantore, en mobiele kantore landswyd geopen, met amptenare wat jou kan bystaan met die nodige advies rakende jou opgawe.
‘n Paar interresante feite waarop SAID hulself roem sedert 1994, is dat die hoeveelheid belastingbetalers gegroei het van 1.7 miljoen in 1994 tot meer as 6 miljoen teen 2010. Maatskappye wat geregistreer het vir inkomstebelasting het gegroei van 422 000 in 1994, na meer as 2 miljoen in 2012. Besighede wat vir BTW geregistreer is, het toegeneem van 397 000 in 1994 tot 664 000 in 2012.
SAID beklemtoon die feit dat elke mens in Suid Afrika, van die amper 50 miljoen, ‘n bydrae lewer tot die regering se belastinginkomste, van die kindjie wat lekkergoed koop en BTW daarop moet betaal, tot die persoon wat brandstof in sy motor gooi deur middel van die brandstofheffing.
SAID het sy belasting inkomste gegroei van R114 miljard in 1994 tot R742.7 miljard huidiglik.
Dit is vir SAID moontlik om 98% van alle opgawes binne 24 uur af te handel. Vir die belastingbetalers wat ietsie moet terugkry, SAID poog om die terugbetaling te maak binne 72 uur nadat jy jou opgawe ingedien het.
Die 2012 belastingseisoen is van 1 Julie 2012 tot 31 Januarie 2013.
Vir die wat hulle opgawes nog met pen en papier voltooi sal die sluitingsdatum 28 September 2012 wees.
Vir die wat e-filing doen is die sluitingsdatum 23 November 2012.
Voorlopige belastingbetalers het tyd tot die 31 Januarie 2013 om hulle opgawes via e-filing in te dien.

No posts to display