Belangrike Junie-eksamen skop af

0
1027
Mark Steenbok

Duisende leerders, waaronder matrikulante en gr. 9’s tel, het die week met die belangrike Junie- eksamen begin wat ‘n groot invloed op hul toekomstige studies sal hê.

Die leerders in die Rosestad is tans besig om die bibberweer te trotseer en hard te leer vir die formele eksamen wat tot 26 Junie sal voortduur.

Courant het ondersoek ingestel om uit te vind hoe die eerste paar dae verloop het, en hoe belangrik dié eksamen vir leerders is.
Volgens Molefi Lebajoa, ‘n eksamenspesalis van die Vrystaatse onderwysdepartement het die eerste twee dae sonder probleme verloop.

“Die eerste dag was goed vir almal. Ons onmiddellike fokus is om die geregisteerde kandidate hul volle potensiaal te laat bereik,” sê Lebajoa.

Baie universiteite maak staat op die Junie/Julie-eksamenuitslae om te kyk of leerders vir universiteitstoelating geskik is .

Die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) maak byvoorbeeld gebruik van‘n punteskaal wat Julie-eksamenpunte insluit.
 
Volgens die skaal moet ‘n kandidaat ‘n telling van 27 of meer punte op die skaal vir die eksamen behaal.

Kandidate wat 22-26 punte op die skaal bereik, moet ‘n aanlegtoets aflê en kandidate wat onder 22 kry sal nie in aggeneem word nie.
Bloemfonteinse skole het geen eksamenprobleme tot dusver beleef nie.

Volgens Geo Jooste, die eksamenhoof van die Hoërskool Sentraal, het die eerste dag vlot verloop en hy het leerders herinner aan die belangrikheid van die eksamen.

“Uiteraard is hierdie eksamen baie belangrik in terme van universiteitstoelatings en ook vir ons graad 9’s wat vakkeuses aan die einde van die jaar moet doen,” sê Jooste.