Belangrik waar kind in klas sit

0
999

Met die oog op die skole wat Woensdag heropen, is dit dalk 'n goeie idee om te kyk na faktore wat leer beïnvloed, soos bevoorbeeld waar jou kind in die klas sit.

So sê Luise Spangenberg van Edu-Profile. Sy assesseer kinders en volwassenes deur middel van genetiese breinprofiele. Spangenberg meen waar jou kind in die klas sit, kan 'n groot rol speel in hul akademiese prestasie.
"Ek het 'n graad een-leerder gehad wie se onderwyseres oortuig daarvan was dat hy ADD (aandag-afleibaarheid) het en medikasie benodig. Ná afloop van sy konsultasie het ek aanbeveel dat hy op 'n ander plek in sy klas sit, aangesien daar geen aanduiding in sy profiel was van ADD of ADHD nie. 'n Week later het die onderwyseres die ma om verskoning gevra en gesê dat die kind geen tekens van ADD toon nie en 'n wakker leerder is."

Volgens Luise moet kinders met hul dominante oor na die onderwyser gedraai sit, sodat hulle in werklikheid beter kan hoor en beter aandag kan gee. Hulle moet daar sit waar daar minder afleidings is.

Sy sê ook dat kinders wat van nature meer beweeg nie noodwendig ADHD het nie en dat hulle juis agter in die klas moet sit waar hulle nie ander leerders kan steur nie.

 
"Dit is ook van waarde vir sulke kinders om op 'n Pilates-bal eerder as 'n stoel te sit. Ouers kan dit tuis toepas wanneer huiswerk gedoen of gestudeer word, aangesien skole dit nie in die algemeen toelaat nie. In die klas kan kinders met 'n stresbal vroetel of met iets kleins speel. Dit sal help dat hulle beter aandag gee," sê Spangenberg.
Moenie dat jou kind hierdie jaar blindelings 'n stoel kies nie. Kies reg en maak gereed vir 'n goeie akademiese jaar. – Mark Steenbok

mark@centralmediagroup.co.za