Bekende partytjiemekka sluit sy deure

0
1599
Laurika en Emile Smuts FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Alle goeie dinge kom tot ‘n einde… Die gewilde en geliefde Bloemfonteinse restaurant, speelplek vir kinders en partytjieplek, Bob’s Peanut Butter Shack, het op Sondag 28 Julie 2019 sy deure gesluit ná sewe jaar in besigheid.

Eienaar van die restaurant, Emile Smuts, het ‘n week voor die sluiting die nuus bekendgemaak op sy Facebook-bladsy. Die restaurant was welbekend vir sy unieke gourmet-melkskommels, wat geure soos melktert, kougom, spookasem, biltong en kondensmelk, asook spek en stroop ingeslujit het.

Die sogenaamde Shack het plaaslike sowel as internasionale besoekers op perfekte melkskommels en kos trakteer, wat in ‘n enig-in-sy-soort omgewing, in ‘n kunsatmosfeer, bedien is.

Volgens Smuts is van die redes vir die sluiting van die restaurant onder meer die tawwe ekonomiese tye waarmee die besigheid op daaglikse basis gekonfronteer was. Hy en sy vrou en mede-eienaar, Laurika Smuts, beplan egter ‘n nuwe avontuur. “Die melkskommels was iets anders, en die spekmelkskommel spesifiek was ‘n wenner. Ek dink ons het iets anders na die tafel gebring, maar nou wil ons ‘n breek vat en tot stilstand kom om rustig te besluit wat gaan volg,” het Emile gesê.

In die tussentyd gaan Bob’s Peanut Butter Shack steeds te siene wees by verskillende feeste en markte. Die Smuts-egpaar beoog om tydelike stalletjies op te rig by plaaslike en ander feeste en markte, insluitend die Bloemfontein Boeremark.

“Ons wil graag baie dankie sê aan die publiek van Bloemfontein vir sewe wonderlike jare; dit was fantasties en mense het dit vir ons baie aangenaam gemaak. Ons wil dankie sê vir die ondersteuning; dit was goed om te hoor dat Bob’s Peanut Butter Shack een van die top-tien-plekke was om te besoek in Bloemfontein,” het Emile afgesluit.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za