Bekende Bloem- gesigte op jou TV-skerm

0
510
Antoinette Louw (as Karen) en Crystal Donna Roberts (as Ava)

Vier van Bloemfontein se gewilde, bekroonde akteurs het van Dinsdagaand af op die kassie in die eerste episode van die derde reeks van Swartwater verskyn. Antoinette Louw, Crystal-Donna Roberts, Gerben Kamper en Sekoati Tsubane is te siene in dié dramareeks, wat beloof om hierdie seisoen die gehoor lekker te laat lag en selfs nou en dan ‘n traan te laat stort.

In ‘n eksklusiewe onderhoud met Bloemfontein Courant vertel die veelbekroonde Suid-Afrikaanse aktrise, Antoinette Louw, dat sy ná al die jare steeds ‘n trotse Bloemfonteiner is en dat dit haar hart laat oorloop van trots. Die nuwe seisoen het met sy uitdagings gekom, en vir Louw het dit lang ure se werk vir weke aanmekaar beteken, met net drie uur se slaap elke nag. Sy het egter sonder omgee vir haarself haar werk met passie en liefde gedoen.

Sekoati Tsubane (as Gomo)

Tsubane, wat ook ‘n rol in die reeks speel, het drama aan Kovsies studeer, waar Kamper sy dosent was. Nou vertolk hulle die rol van pa en aangenome seun in dié reeks. Volgens Tsubane was hy in die wolke oor die rol. Hy vertel hoedat dit vir hom ‘n absolute plesier was om saam met Kamper te werk.

Sy gunsteling-periode op universiteit was toevallig ook wanneer hy Kamper se klasse kon bywoon. “Ons spesiale band is ongekompliseerd en natuurlik. As mentor het hy ook bygedra daartoe, veral omdat ek hom op die verhoog gesien het en weet wat hy na die tafel bring,” sê Tsubane.

Volgens Kamper is die grootste pluspunt vir hom wanneer hy met oudstudente werk, die voorreg dat hy hulle ken. “Dit gebeur so dikwels dat ‘n mens alleen voel op ‘n stel, maar met oudstudente is daar skielik ‘n geborgenheid, wat my persoonlik baie tuis laat voel,” sê hy.

Gerben Kamper (as Buks)

Swartwater speel af op ‘n fiktiewe kusdorpie in die Overberg-distrik in die Wes-Kaap. Dit handel oor ‘n paartjie wat van Johannesburg af na die kusdorpie verhuis nadat hulle hul seuntjie verloor het in ‘n tragiese insident. Die nuwe seisoen speel af ‘n jaar ná Seisoen 2. Die eerste episode het op 19 Januarie op SABC 2 afgeskop.

Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za