Bejaardes gehelp met oogprobleme

0
846
Dr Karen Conradie

Die Pasteur-ooghospitaal in Bloemfontein, in samewerking met die ATKV se #WeesDieVerskil-veldtog, het aan die einde van Mei op KykNet se “Dankie, Lottoland”-program verskyn.

Tydens hierdie veldtog het talle bejaardes wat nie kon bekostig om hul katarakte te laat verwyder nie, hul sig weer teruggekry. Elkeen van hierdie pasiënte het sy of haar eie storie. Gewoonlik smag hulle na dinge wat mense gewoonlik as vanselfsprekend aanvaar: om te kan bestuur, te kan lees, te kan kosmaak.

Volgens, Pasteur-ooghospitaal se dr. Karen Conradie, is dit altyd lekker om ’n pasiënt te kan help. Dit was vir haar ’n nuwe ervaring om kameras in die teater te hê, maar dit was ’n goeie ervaring van begin tot einde. “Die operasies was ’n sukses en dit is die belangrikste. Dit was ’n wonderlike ervaring, baie emosioneel en spesiaal. Dit is lekker om te weet jy het ’n verskil gemaak.”

Die “Dankie, Lottoland”-program het pasiënte, wat almal gekies was om die operasies gratis te ontvang, gevolg van die begin af reg deur tot met die operasie en tot wanneer hulle weer vir die eerste keer kan sien. Dr Conradie het gesê hulle is dankbaar vir dié projek. “Baie mense kan die nie bekostig nie en ons kan nie almal help nie. Fondse soos dié maak dit egter moontlik. Dankie, Lottoland!”

Nog ’n oftalmoloog, dr. Johan Eloff, sê elke pasiënt is anders en elke oog en katarak verskil. Elke persoon se reaksie verskil soos wat persoonlikhede verskil. “Dit bly ’n voorreg om ’n dokter te kan wees en positiewe reaksie te kry.”

Vier pasiënte is vir die program gevolg. Een van die pasiënte, Doreen Stassen, se grootste droom was om weer te kan bestuur. Nog ’n pasiënt, Marie Holtzhausen, het in trane uitgebars toe sy hoor die operasie sou verniet gedoen word. Sy was opgewonde oor haar operasie en het daarna uitgesien om weer te kon kosmaak en naaldwerk te doen. Miemie Muller het ook gekwalifiseer en kon nie glo hoe helder die kleure was toe sy die oggend ná die operasie duidelik kon sien nie. Pasiënt Bennet word elke oggend 4uur wakker
en vir hom het sy grootste droom, om net weer sy Bybel te kon lees, waar geword, iets waarvoor hy altyd dankbaar sal wees.

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za