Beenhare waai vir liefdadigheid

0
448

MARICELLE BOTHA

Met die onlangse groot sukses wat motorneuronsiekte (MNS) se Ice Bucket Challenge wêreldwyd geniet het, het die Bloemfonteinse Chevrolet Knights verlede week ‘n uitdaging van hul eie van stapel gestuur.
Woensdag het die hare behoorlik gewaai toe talle spelers by Northridge Mall se Dis-Chem bymekaargekom het vir die Chevrolet Knights se Hot Wax Challenge ten bate van Kindersorg Bloemfontein en Childline Vrystaat.
Siende dat die uitdaging bouler Tumi Masekela se geesteskind was, het hy eerste aan die beurt gekom en met groot bravade gaan sit. Maar soos ons almal weet, waar onkunde geluk bring, is wysheid dwaasheid. Ná die eerste plukslag was dit duidelik dat om beenhare te waks beslis nie in enige man se broek sit nie.
Met sy spanmaats wat die saak noukeurig van die kantlyn af dopgehou het, was die groot vraag, wie sou volgende wees. Die uitdaging werk só, jy word uitgedaag om jou beenhare te laat waks. Sodra jy die uitdaging aanvaar, maak jy ‘n donasie aan Kindersorg Bloemfontein en
Childline Vrystaat. Daarna het jy dan natuurlik die luukse om iemand anders uit te daag om dieselfde vir hierdie organisasie te doen. Rudi Second is deur Masekela genomineer en was die tweede Knight om die uitdaging te aanvaar.
Masekela vertel hulle word as Cheverolet Knights aangemoedig om op verskillende wyse by die gemeenskap betrokke te raak. "Ek het gedink die MNS-uitdaging is ‘n goeie idee en iets ouliks wat ‘n mens vir liefdadigheid kan doen. Kinders is die toekoms en dit is belangrik dat ons vir hulle ‘n goeie fondament lê."
"Ons is baie opgewonde oor hierdie projek. Ons sal beslis van Kindersorg Bloemfontein en Childline Vrystaat se kant af ook ‘n paar mense uitdaag om die pyn uit te staan vir ‘n goeie doel," sê Lize du Plooy van die organisasie.

maricelle@centralmediagroup.co.za

Chevrolet Knight Tumi Masekela het die pyn wat dames ter wille van skoonheid deurmaak redelik onderskat. FOTO’S: MARICELLE BOTHA