Beauty and the Beast sing vir liefdadigheid

0
1419

Xander Art Productions bied aan: ‘n produksie ten bate van Engo Vrystaat! Beauty and the Beast is ‘n alombekende musiekblyspel en Disney-film onder alle huisgesinne. Xander Steyn (regisseur van die produksie) en ‘n paar ‘Celebs en Plebs’ (soos die groep hulself noem) het kragte saamgespan om iets anders vir welsyn te doen. Teaterkuns is iets waarby almal aanklank vind en dit is juis daaroor dat hierdie produksie op 9 Mei in die Stadskouburg in Bloemfontein op die planke gaan wees.
 
Soveel as 90% van die produksielede was nog nooit op ‘n verhoog nie; dus is dit regtig ‘n projek waar die hart van mense die fokuspunt raak. Bloemfontein se bekende gesigte sluit in Jana du Plessis (motiveringspreker en kankeroorwinnaar), Anri Powell (Mev. Heelal Suid-Afrika 2012 en direkteur van ACE Models) saam met haar man Jimmy (fisioterapeut) en Christine Steyn (mediese dokter en sanger). "Hierdie mense is nie musiekteater-akteurs en -sangers nie, maar hulle is bereid om op die verhoog ‘n verskil te maak," sê Steyn.

Engo is die grootste nie-winsgewende en nie-regeringsorganisasie in die Vrystaat en bestaan uit ses subprogramme, naamlik 34 kinderhuise, 23 bejaardesorgsentrums, 14 gesinsorgkantore en aannemingskantore, drie sentrums vir gestremde sorg, ses ondersteuningskantore vir hospitaalsorg en opleidingsprogramme.

Kom skop jou skoene uit en geniet ‘n heerlike aand van musiek en toneelspel op 9 Mei 2015 om 19:30!
Plekke is ongereserveerd, so kry so gou as moontlik ‘n kaartjie om teleurstelling te voorkom.

Kaartjies kos R50 by Madeliefie (hoek van Kellnerstraat en Dan Pienaarrylaan), by dr. Christine Steyn se algemene praktyk in Koos van der Waltstraat 95, Universitasrif, by Engo- provinsiale kantoor in Van Heerdenweg 22, Wilgehof en Ons Kinderhuis in Victoriaweg.