Maricelle Botha
Sowat twee jaar gelede het ‘n groep professionele musikante kragte saamgespan met ‘n paar plaaslike ‘stokperdjie’-musikante. Die uiteinde was die Bloemfonteinse Stadsorkes, of BCO, soos hulle bekendstaan.
Tans bestaan die orkers uit meer as 80 lede waarvan 50% professionele spelers is. Die orkes het in ‘n kort tydjie bekendheid verwerf vir hul grootskaalse musiekervarings. "Ons wil graag hê die gehoor moet deel van die ‘geleentheid’ word," verduidelik Paul Loeb van Zuilenberg, een van die BCO se stigterslede. "Ons musikante vergeet soms dat ons steeds entertainers is en dus aan die gehoor moet bied wat dit graag wil hoor."
Die doel van die mengelmoes van ernstige klassieke musiek en kontemporêre nommers is gedeeltelik ook om ‘n smaak vir klassieke musiek onder die publiek te kweek, vertel Dieperink Möller, die ander stigterslid van die orkes.
Die orkes bring tussen vier en ses konserte per jaar op die planke en die nuutse een vir die jaar is op 9 en 10 Mei in die Sand du Plessis-teater.
Die uitvoering van die Walliese komponis Karl Jenkins se mis, The Armed Man, sal saam met die Drakensbergse Seunskoor en die Alumni Voices uitgevoer word. Behalwe vir die twee konserte in Bloemfontein sal die konsert ook een as deel van die Drakies se jaarlikse Music in the mountains-fees wat van 1 tot 4 Mei gehou word, uitgevoer word.
Theresa De Witt (alt), Elmarie Potgieter (sopraan), Kgaugelo Mpyane (tenoor) en Marco-Neil van Heerden (bas) sal tydens die uitvoering as soliste optree, terwyl Van Zuilenberg sy dirigentstok sal swaai.
The Armed Man is in opdrag van die Royal Armouries Museum vir die Millennium-vieringe en die museum se skuif van Londen na Leeds geskep en is toegewy aan die slagoffers van die 1998/1999-Kosovo-krisis. Dit is in wese ‘n anti-oorlog-stuk en is gebaseer op die Katolieke mis, wat Jenkins kombineer met ander bronne, hoofsaaklik in die vyftiende eeuse volksliedjie "L’homme arme" in die eerste en laaste bewegings.
Benewens uittreksels uit die bekende mis sluit die teks woorde van ander godsdienstige en historiese bronne, waaronder die Islamitiese oproep tot gebed, die Bybel (bv. die Psalms en Openbaring) en die Mahabharata in. Die teks inkorporeer ook woorde en geskrifte van internasionale figure wat met vrede geassosieer word soos dié van Nelson Mandela, die Dalai Lama, Moeder Teresa, Martin Luther King en Anne Frank.
Kaartjies kos tussen R120 en R180 vir hierdie konsert is reeds by Pacofs beskikbaar.
maricelle@centralmediagroup.co.za
Date: