Barok Ensemble te sien in Ou Presidensie

0
894

Rosestad-liefhebbers van klassieke musiek word eersdaags trakteer op ‘n besonderse Sondagmiddagkonsert in die historiese Ou Presidensie.
Die plaaslike Barok Ensemble tree op
17 Augustus om 16:00 hier op en die program wat aangebied word, beloof om uiters aantreklik te wees vir elke musiekliefhebber.
Die konsert begin met die hoof-attraksie: Die Sonate in F vir twee hobo’s, fagot, virginaal en kontrabas. Dit is ‘n opwindende werk met uitdagende solo’s vir fagot en hobo’s. Brahm Henkins (fagot) en Kobus Malan (hobo) sal in aksie wees.
Dit word gevolg deur ‘n concerto vir blokfluit en strykers van Telemann, wat deur Petrus Krige voorgedra sal word. Hierna volg nog ‘n werk van Telemann, met konserterende fagot, hobo en blokfluit, met virginaal en kontrabas.
Die slotwerk is ‘n lighartige komposisie van Loeillet vir twee hobo’s, twee viole, fagot, kontrabas en virginaal. Die strykers en blasers se klankkleure word pragtig hierin gekontrasteer, terwyl die totale sameklank orkestraal klink.
Kaartjies kos R50 en sal by die deure beskikbaar wees.