Barkly-Oos moordsaak na Hooggeregshof verwys

0
642

LANI FOUCHÉ

Die Lesotho-burger wat verdink word van die moorde op die bejaarde boere-egpaar van Barkly-Oos, Dawid en Ralie de Villiers, se saak is na die Oos-Kaapse hooggeregshof verwys.

Die 22-jarige Thulani Mkhentani het gister vlugtig weer in die dorp se landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord en een van poging tot moord.
 
‘n Hooggeregshofdatum moet egter nog deur die Direkteur van Openbare Vervolging vasgestel word. Mkhentane hou steeds vol dat hy nie om borgtog wil aansoek doen nie.

Intussen is Dawie de Villiers, die egpaar se seun wat tydens die aanval ernstig beseer is, verlede week na Bloemfontein se Life Pasteur-hospitaal oorgeplaas vir rehabilitasie.

Hy is, soos sy ouers, verlede maand in hul huis op die plaas Broadlands keelafgesny, maar hulp het hom betyds bereik.