Barker nuwe voorsitter van Vrystaatse hoërskolerugby

0
Barker nuwe voorsitter van Vrystaatse hoërskolerugby

GEORG VAN ECK

Ná jarelange diens het die voorsitter van die Vrystaatse Hoërskole-rugbyvereniging, Johan Vorster van Hoërskool Sentraal, die tuig neergelê en die leisels aan sy opvolger oorhandig.
“Sy opvolgers volg in groot voetspore, want hy het diep spore in skolerugby getrap,” het Lindsay Mould, president van die Vrystaat Rugbyunie, op die jaarvergadering van die Vrystaatse Hoërskole-rugbyvereniging van Vorster gesê.
Mould het ook die onderwysers geloof vir hul toewyding en uitstekende werk om Suid-Afrikaanse spelers te vorm en te kweek. Volgens hom is dit die hoërskole en laerskole se onderwysers en afrigters wat verseker dat die Springbokke een van die toonaangewende spanne ter wêreld is.
“As dit nie daarvoor was nie sou die Springbokke waarskynlik in ’n drie- of viernasie-reeks teen spanne van Kenia, Ghana, Marokko en Nigerië gespeel het.”
Vorster het sy uittrede ná 11 jaar as voorsitter aangekondig. Voor dit was hy drie jaar lank ondervoorsitter onder Dries van der Wal van Grey-Kollege. Hy en Van der Wal het die Vrystaatse Cravenweekspan in die vroeë jare 90 ook met sukses afgerig. Voorheen het hy as afrigter en administrateur in Oos-Vrystaat ook sy merk gemaak.
Michael Barker van Hoërskool Fichardtpark is as nuwe voorsitter verkies. Barker het Paul Spies van HTS Louis Botha en Roy Doubell van die Hoërskool Sand du Plessis in ’n verkiesing verslaan.
Barker se hand as nuwe voorsitter word versterk deur die feit dat hy ondersteun word deur ’n ervare bestuur, wat byna onveranderd vir 2013 verkies is. Dieselfde geld vir die o.18 en o.16 Vrystaatse keurkomitees wat verkies is.
Vorster het ook aangekondig dat die Suid-Afrikaanse Skolerugby-vereniging saam met Suid-Afrikaanse Rugbyskeidsregters-vereniging die bal aan die rol gaan sit vir die daarstelling van ’n Hoërskole Rugbyskeidsregtervereniging waar onderwysers, leerlinge en selfs ander betrokkenes opgelei sal word om skolerugbywedstyde te beheer.
Die nuwe bestuur en keurkomitees vir 2013 is: Bestuur: Michael Barker (voorsitter), Jimmy Jimlongwe en Schalk Malherbe (ondervoorsitters), Johan van Zyl (administratiewe sekretaris), Riaan Herholdt (tesourier).
Keurkomitee o.18: Pieter Swanepoel, Jimmy Jimlongwe, Roelf Meyer, Dirkie Groenewald, Deon van Wyk, Schalk Malherbe en ’n sewende keurder wat deur die bestuur en Vrystaatse Rugbyunie gekoöpteer sal word.
Keurkomitee o.16: Trevor Pennels, Ivan Stevens, Riaan Herholdt, Jimmy Lekganya, en Flippie Slabbert.

No posts to display