MARINÉ JACOBS
Beide slagoffers van die huisinbraak in Bainsvlei vroeg Saterdagoggend moes gister opereer word om die veelvuldige frakture wat hulle opgedoen het te herstel. Pieter en Elsa Kolver is wreedaardig aangerand toe twee verdagtes Saterdag in die vroeë oggendure by hul huis op ‘n kleinhoewe ingebreek het, hulle met toue vasgemaak het en aangerand het. Pieter is drie keer geskiet en aangerand, terwyl Elsa ernstige kopwonde opgedoen het nadat sy ook aangerand is. Die verdagtes het op die vlug geslaan met ‘n kluis wat geld en twee vuurwapens in gehad het.
Mediclinic Bloemfontein woordvoerder, Amanda Appelgryn, sê beide die Kolvers is tans in ‘n ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal se intensiewe sorgeenheid. “Hulle is albei by hulle volle bewussyn en georienteerd,” sê Appelgryn. Sy sê dat Elsa ernstige skade aan haar oog opgedoen het nada teen van die verdagtes vermoedelik die loop van ‘n wapen in haar oog gedruk het.
Die Kolvers se dogter, Ria Knouwds, het Saterdag kort na die aanval aan Courant gesê haar ma het omstreeks 05:00 die oggend ‘n werknemer geskakel om te vra vir hulp. “Toe ek by die toneel kom, was my pa op die vloer,” het Knouwds gesê. “Hy kon nie eintlik praat nie, want hy kon ons nie hoor nie. Hulle het hom hard op die oor geslaan, so ons vermoed daar is moontlik skade aan sy oordrom. My ma was heel deurmekaar, maar het darem by die hospitaal geweet wie ek is.”
Polisiewoordvoerder Thandi Mbambo sê geen verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem nie.