Bainsvlei-GPF spog met eie brandbestrydingswa

0
549

Die Here is goed vir hom. Daarom het hy besluit om terug te ploeg in die gemeenskap van Bainsvlei en hul taak om wegholveldbrande in die kleinhoewe-gebied te bestry, te vergemaklik. 'n Staalkontrakteur van Bloemfontein, Jimmy van der Merwe, het onlangs 'n brandbestrydingswa uit sy eie sak gebou en aan Sektor 2 van die Bainsvlei-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) beskikbaar gestel. Van der Merwe, wat op Bainsvlei bly, het 'n klein tweedehandse vier-ton-vragmotor bekom en met die nodige toegerus. Hy het dit aan dié sektor, wat in samewerking met die polisie misdaad probeer bekamp en hul gebied beveilig, beskikbaar gestel, bloot om die sektor se taak te verlig wanneer brande beveg word. Die klein vragmotor is toegerus met 'n tenk wat 4000 liter water berg. Daar is ook 'n hoëdrukpomp aangebring wat water uit die tenk op vlamme spuit.'n Laedrukpomp dien dieselfde doel en pomp ook water uit die tenk op die lorrie na ander brandbestrydingswaens.
Van der Merwe vertel die brandbestrydingswa is ook met twee rooi ligte toegerus. Dit is na aan die ware Jacob en hy glo dié wa staan geensins terug vir brandweerwaens nie. Hy hanteer self die tenk se onderhoud. Volgens Francis Gous, GPF-sektorvoorsitter, is die sektor in sy noppies met die wa. Daar is slegs 'n paar lede uitgewys wat die dit mag bestuur, want 'n mens moet jou storie ken.
Gous sê daar was 'n groot behoefte onder lede van die sektor om noodsaaklike toerusting tot hul beskikking te hê wanneer hulle brande bestry, aangesien daar die afgelope maande verskeie wegholbrande in die gebied voorgekom het. Die sektor se brandbestrydingswa is van onskatbare waarde. "Ons het die wa ingespan toe ons onlangs inderhaas deur die Rayton-buurtwag ontbied is om die brandweer te help met 'n brand wat in Lilyvale handuit geruk het."
Terwyl die sektor spog met sy eie brandbestrydingswa, moet booswigte in die gebied ook ligloop. Die sektor is toegewyd tot die veiligheid van die gemeenskap. Gous sê sedert die tienermeisie, Noeline Koekemoer, vanjaar in April op 'n kleinhoewe in die gebied verkrag en vermoor is, het die ledetal, veral in die gebied waar Koekemoer vermoor is, toegeneem. "Die tendens is dat ons ledetal konstant maandeliks toeneem in die meeste van die agt selle in die sektor." Daar word wel ondervind dat misdaad in 'n spesifieke gebied mense aanspoor om meer betrokke te raak. Volgens Gous wil hulle hê meer mense moet proaktief betrokke raak, maar is hulle steeds trots op diegene wat wel betrokke is. Die sektor se ledetal het in die afgelope tien maande met sowat 200 huisgesinne toegeneem en daar is nou meer as 1 200 lede wat vrywillig betrokke is.
Volgens Gous bied die GPF verskeie inisiatiewe aan om die gemeenskap aan te moedig om betrokke te raak. Daar is in Mei 'n potjiekosdag gehou by Mooiwater-bewarea. Groot pryse was op die spel. Die Bainsvlei Sektor 2 het in Julie kinderveiligheid beklemtoon met 'n inligtingsdag wat deur tientalle kinders en van hul ouers bygewoon is. Die dag, wat in samewerking met die Auksano-traumaterapiesentrum by die Hoërskool President Steyn se sportterein aangebied is, het lesings oor die gevare van drank, dwelms, satanisme, sosiale media en boeliery ingesluit. Daar is ook op persoonlike veilighed en selfverdediging gefokus. In Oktober lê 'n heerlike pretdag voor, met 'n skattejag vir kinders wat by Mooiwater-bewarea plaasvind, terwyl ouers aan 'n "Amazing Race" kan deelneem.
Gous sê hulle moedig huisgesinne aan, spesifiek bejaardes wat in die gebied woon, om betrokke te raak en in te skakel by Bainsvlei se radionetwerk, wat vinnig uitbrei. Lede patrolleer ook gereeld die gebied. "Ons het 'n infrastruktuur om op trots te wees – daar is 'n mediese span beskikbaar wat hulp kan verleen totdat daar nooddienste op die toneel is. Daarmee saam het die sektor ook 'n K9-eenheid vir spoorsnydoeleiendes. Dit is egter 'n leerproses en die eenheid pas die stelsel gereeld aan soos nodig," sê Gous. – Christal-lize Muller 
cmuller@centralmediagroup.co.za