Bainsvlei-gemeenskap staan saam teen misdaad

0
1274

CHRISTAL-LIZE MULLER

Onbaatsugtig toegewyd tot die veiligheid van die gemeenskap. Dit is waarvoor Sektor 2 van die Bainsvlei-gemeenskapspolisiëringforum (GPF) in Bloemfontein bekendstaan. Dié forum, met sowat 800 inwoners op sy databasis, almal vrywillige betrokkenes, het vandeesmaand agter die skerm onverbiddelik voortgegaan om die polisie te help soek na ‘n verdagte in verband met die moord en verkragting van die 16-jarige Noeline Koekemoer van Bainsvlei.

Na ‘n intensiewe en uitgebreide soektog deur die polsie is ‘n voortvlugtende man, ‘n oudwerknemer van die eienaar van die kleinhoewe waar Koekemoer en haar ma Natasha ‘n woonstel huur, enkele dae ná die tienermeisie se moord in hegtenis geneem. Francis Gous, GPF-sektorvoorsitter, sê die gemeenskap sou meer wou doen om die polisie te ondersteun om Koekemoer se vermeende moordenaar vas te trek, maar hulle is nie polisiebeamptes nie. "Toe die polisie ons gevra het om te help nadat hulle inligting ontvang het dat die verdagte in ‘n sekere gebied is, was dit verblydend om te sien hoe ‘n groot groep mense betrokke geraak het om die polisie te help soek na die man."

Kort na die inhegtenisneming het die polisie se ondersoekspan op ‘n geselligheid die Bainsvlei-GPF vir sy toegewyde bydrae bedank. Volgens Gous was daar in ‘n stadium 110 mense betrokke in die soektog enkele dae na Koekemoer se moord. Sowat 80 voertuie en talle honde is gebruik om die plaaslike Bavaria-gebied te fynkam. Op een aand alleen is 4 400km afgelê.
Volgens Gous gaan die forum van krag tot krag in die beveiliging van die kleinhoewegebied. ‘n Sterk boodskap word aan booswigte gestuur dat hulle onwelkom is.

Die forum bestaan uit sewe selgroepe met lede wat daagliks onder meer die kleinhoewegebied met sowat 20 000 inwoners patrolleer. "Ons doelwit is om die oë en ore van die polisie te wees sodat kriminele ongemaklik voel in die gebied."

Daar is ‘n tweerigting-radionetwerk in plek. Lede is daagliks op bystand om onmiddellik op noodgevalle te reageer. Daarmee saam het die forum ook verskeie brandspanne om wegholbrande in die gebied, veral in die winterseisoen, te bestry. Die forum se honde-eenheid bied ook opleiding in aanvalswerk en spoorsny.

Gous moedig inwoners aan om betrokke te raak omdat dit vir almal se "gemoedsrus belangrik is". Die wete dat ‘n gemeenskap hande vat en saamstaan maak dat hulle soveel veiliger en sterker is. "Ons almal weet die polisie het ‘n tekort aan mannekrag en baiekeer ook hulpbronne. Dit is belangrik dat ons as gemeenskap daar kan wees vir die polisie."

As mense aansluit by die Bainsvlei-GPF ontvang hulle opleiding. Lede wat die gebied patrolleer moet registreer by die polisie. ‘n Proses word gevolg in terme van kriminele klarings, terwyl opleiding in kwessies met betrekking tot menseregte deur die polisie se regsdienste verskaf word. Dít om onsekerhede in terme van die strafproseswet uit die weg te ruim.

Martie Harmse, ‘n lede van die forum se honde-eenheid, sê sy het besluit om betrokke te raak om ‘n verskil te maak. Haar 9-jarige dogter, Zandri, is ewe trots op die feit dat haar ma die gebied wil beveilig. Zandri, ‘n gr.4-leerling aan Eduplus- Onafhanklike Skool in die stad, was so in haar noppies met die forum dat sy op ‘n uitstalling van die skool oor mense wat ‘n verskil maak in hul gemeenskap, die Bainsvlei-GPF se werksaamhede onder mense se aandag gebring het.

Gous moedig gemeenskappe oor die land heen aan om ook betrokke te raak in gemeenskapspolisiëring-inisiatiewe ter beveiliging van hul gebied.

Diegene wat wil betrokke raak kan Gous bel by 079-818-3547 of hul webwerf besoek by bainsvleicpf.co.za.

cmuller@centralmediagroup.co.za