MARINÉ JACOBS
‘n Relatiewe nuwe tegniek wat al hoe gewilder onder mammas raak, is baba-massering. Hierdie tegniek word reeds dekades lank in Nigerië, Indië, Bali en Fiji gebruik, maar die konsep is eers onlangs in die Westerse wêreld aangeneem. Die voordele van baba-massering is al deur verskeie navorsing bewys en toenemend meer ma’s glo in die onmisbare waarde daarvan. Voordele wat baba-massering inhou sluit in die verligting van spanning en die stimulering van endorfiene, wat baba’s help ontspan en kalmeer. Dit versterk ook die band tussen ma en baba en help jou kleinding om beter te slaap. Daar is ook bewyse dat massering jou kind se emosionele- en fisiologiese ontwikkeling kan aanhelp.
Courant het ‘n paar wenke gekry vir ma’s wat graag wil leer hoe om hul baba te masseer:
- Gebruik ‘n handdoek of kombers, asook olie spesifiek vir masseer-doeleindes.
- Maak seker dat jy minstens ‘n halfuur of meer tyd het om te masseer.
- Jy kan die massering enige tyd van die dag doen, maar die beste tyd is net ná baba gebad is en gereed maak vir slaaptyd.
- Begin met massering wanneer jou baba in ‘n stil, maar wakker bui is. (Nie onmiddellik ná voeding of wanneer baba slaperig is nie.)
- Skep ‘n kalm atmosfeer deur jou selfoon af te skakel, rustige musiek te speel en te sorg dat die kamer nie té warm of té koud is nie.
- Gebruik sagte, ligte masseerbewegings en werk van die middel af buitentoe (bv. van die skouers af na die hande toe).
- Jy kan jou vingerpunte gebruik om saggies opwaarts te vryf na jou baba se gesig.
- Begin eers met ‘n kort sessie, ongeveer vyf minute, en maak die sessies al hoe langer.
- Masseer jou baba wanneer sy nie té vol of té honger is nie en vermy massering wanneer sy ‘n immunisasie gehad het of siek voel.
- As jou baba ter enige tyd gedurende die massering ongemaklik raak of lyk asof sy dit nie geniet, stop eerder en probeer weer ‘n ander keer.