Lani Fouché
‘n Drama het hom vandag in die parkeerarea van ‘n winkel in Bloemfontein afgespeel toe inkopiegangers op ‘n huilende baba in ‘n toegesluite motor afgekom het.
Louise Cloete sê sy was uiters geskok om die sowat drie-maande-oue baba in die versengende hitte op die agtersitplek van ‘n wit Toyota Fortuner te sien lê en huil.
Sy en ander inkopiegangers het die vensters probeer oop forseer, kort voor die ma daar aagenkom en weggery het.
Cloete sê volgens haar motor se termometer was dit op daardie stadium 39 grade celcius buitekant.
"Ek het in die die parkeerarea van Spar in Universitas aangekom en ‘n baba hoor huil. Op daardie oomblik het ek nie gedink dis ‘n baba in ‘n kar nie, ek dag dis iemand wat iewers ‘n baba dra. Ek en my dogter het ingegaan, ons inkopies gedoen, en toe ons amper klaar was, het ‘n man die winkel binne gehardloop en gevra ‘Wie ry ‘n wit Fortuner? Daar’s ‘n baba in, en dis gesluit!’ Ek het onmiddellik uitgehardloop en vir die sekuriteitswag en karwag geskree om die ma binne die winkel te gaan soek. Ek het die vensters probeer oop forseer, maar dit nie reggekry nie."
"Toe die ma daar aankom, het ek my humeur heeltemal verloor. Ek het op haar begin gil en skree… maar ek het net gedink, ‘n mens kan mos nie dit doen nie? Jou kind kan mos doodgaan!"
Polisiewoordvoerder, Annelie Wrench, sê dis belangrik om in sulke situasies die baba eerste te probeer uitkry, maar om iemand as ooggetuie te hê voordat jy ‘n venster sommer breek. Sy sê sulke voorvalle van kinderverwaarlosing en kindermishandeling by die familiegeweld en seksuele oortredings-eenheid aangemeld word.
"Jy kan ook 10111 skakel of na jou naaste polisiestasie gaan. Onthou ook om die motor se registrasienommer neer te skryf."
In 2012 is ‘n 4-jarige dogtertjie uit ‘n kokende motor gered buite ‘n inkopiesentrum in Welkom, en in 2008 is ‘n vyf maande oue maande baba in ‘n warm motor buite ‘n casino in die stad gelos. Beide het dit oorleef.