Tussen 28 Mei en 1 Junie kan kunsliefhebbers by die Kotzé-kunsgallery Mieke-Louise de Villiers se uitstalling, ‘Awake Sleeper’, gaan besigtig. Die opening van die uitstalling vind Dinsdag 28 Mei om 18:00 plaas.
Volgens De Villiers is die naam van haar uitstalling ’n baie persoonlike keuse. “Dit is ’n persoonlike reis van die herontdekking van myself en dit wat aan my toegedeel is,” het sy vertel.
“Ek het vir baie jare die begeerte om te skep onderdruk omdat ek gedink het dat ek nie goed genoeg is nie.”
Sy het ook bygevoeg: “Dit voel asof ek wakker geword het tot die besef dat dit werklik vir my die moeite werd is om te skep en myself deur my kuns uit te druk”.
De Villiers het verduidelik dat dit is asof sy uit ’n diep slaap ontwaak het. “My begeerte met die titel is dat dit ook op daardie manier sal spreek tot ander wat dalk vir jare sekere paaie gevolg het en belangstellings of begeertes onderdruk het as gevolg van die status quo of ander verpligtinge,” het sy gesê.
Vir haar is inspirasie nie meer ’n uitdaging nie, maar sy is wel gedruk vir tyd. “Tog bly die menslike liggaam ’n ontwykende en uitdagende versoeking om te vertolk,” het sy vertel.
“Ek beskou dit as ’n onuitputbare bron van inspirasie.” Volgens De Villiers vind sy dit moeilik om by een medium of onderwerp te bly.
“Houtskoolsketse bly ’n gunsteling,” het sy verduidelik, “maar ek wissel tussen portrette, blomme en landskappe.” Die ‘Awake Sleeper’-uitstalling sal uit tussen 25 en 30 kunswerke bestaan, wat ’n verskeidenheid van mediums en onderwerpe sal verteenwoordig.
Haar gunsteling werk in die uitstalling is haar houtskoolskets wat die tema en denkproses aan die gang gesit het, getiteld ‘Awoke’. Kaartjies vir die opening is beskikbaar op Quicket, of kontak Kotzé-kunsgallery vir meer inligting.
Warren Hawkins