Avbob-museum maak sy deure oop

0
347
Die komitee wat die museum se ontwerp, konstruksie en uitstallings behartig het. Van links is Garth Lundall (Hoofbestuurder: AVBOB Industries Bloemfontein), Jan Etsebeth, Deon van den Berg (Provinsiale bestuurder: Vrystaat en Noord-Kaap), Renier Strydom (Operasionele bestuurder: AVBOB Industries), Carmen van Schalkwyk (Museum-toergids), Daan Marais (Areabestuurder: Menslike Hulpbronne) en Paul de Lange. (Avbob-pensioenaris met 45 jaar diens).

Avbob se museum het amptelik op Woensdag 20 Februarie sy deure in die Rosestad geopen nadat dit van Pretoria af hierheen geskuif is.

Die nuwe museum is tydens ‘n spesiale geleentheid geopen deur Frik Rademan, die groep- uitvoerende hoof van van Avbob.

Een van die vele uitstallings in die museum.

Avbob is 101 jaar terug, in 1918, in Bloemfontein gestig deur mnr. HH van Rooijen, wat ook die Hoërskool Sentraal se eerste skoolhoof was.

“Sowat ses jaar gelede, toe ons aan aktiwiteite begin beplan het vir ons honderd jaar-herdenking, het ons reeds daaraan begin dink om ‘n museum te open. Oor die jare het ons verskillende artikels en kunsprodukte bymekaar gemaak en ‘n museum in Pretoria geopen om dit te bewaar en uit te stal, maar weens ‘n tekort aan ruimte, kon alles nie uitgestal word nie,” het Rademan verduidelik.

Frik Rademan, uitvoerende hoof van AVBOB. FOTO: THE CEO MAGAZINE

Die nuutgeopende Bloemfonteinse glansmuseum beeld die geskiedenis van Avbob en hoe die onderneming oor die jare gegroei het, uit. Die verskillende lykswaens van oor jare heen word ook in die museum uitgestal. ‘n Uitstalling van ‘n begrafniskapel, ‘n outopsietafel, lyksyskaste en verskillende ander interessanthede is in die museum te sien. Avbob was ook deel van oud-president Nelson Mandela se begrafnis, wat herdenk word deur ‘n muuruitstalling op glas.

“Ek wil almal bedank wat by die projek betrokke was, veral die projekspan wat dit reggekry het om presies uit te stal wie en wat Avbob regtig is en voor staan. Die wonderlike verskeidenheid van begrafnisdienste, die bedryf en die artikels maak die museum uniek. Ek glo die museum gaan nog vir baie jare staan en bewys wees van die trots wat ons in ons organisasie het,” het Rademan afgesluit.

Die kapel in die museum.

Die museum is oop van Maandae tot Vrydae tussen 08:00 en 16:30. Belangstellendes kan ook vir Carmen van Schalkwyk kontak by 051-430-2017/9. Toegang is gratis. Die museum is geleë in Eerstelaan 14, op die hoek van Charlesstraat, Westdene, by die provinsiale kantore. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za