Atletiekhelde rig gooie in Bloemfontein af

0
2222

GEORG VAN ECK – Twee van Suid-Afrika en die Vrystaat se sporthelde, kampioene en rekordhouers, Elizna Naudé en Chris Harmse, is saam met verskeie afrigters besig om terug te ploeg in die sportsoorte waarin hulle self soveel roem verwerf het.
Meer as ’n honderd atlete vanoor die hele Vrystaat het in Bloemfontein saamgetrek om onderrig in diskusgooi, gewigstoot en hamergooi van die voormalige Vrystaatse Sportman en Sportvrou van die Jaar te kry.
Hulle is bygestaan deur bekende Vrystaatse afrigters in die gooie, Basie Koen, Jan Brits, Telanie Stevens, Conradie Scheepers en Conroy Flynn.
Die gooiekliniek is deur die Laerskool Fichardtpark en Atletiek Vrystaat aangebied.
“Suid-Afrika beskik oor geweldige talent. Nie soos sommige lande soos Kenia net in die middel- en langafstande nie, maar oor die hele spektrum van atletiek. Klinieke soos hierdie moet meer gereeld aangebied word.
“HTS Sasolburg het hamergooihokke gebou en die HTS van die skool is reeds beter bekend as Hammer Throw School. Omdat die geriewe en afrigting daar is, lok dit hamergooiers van oor die hele land,” gesels die beste hamergooier wat Suid-Afrika nog opgelewer het, Chris Harmse. Hy het die hamer al verder as 80 meter geslinger.
Die bekende afrigter Basie Koen, wat Harmse afgerig het toe hy met die beste in die wêreld meegeding, titels verower en rekords behaal het, het ook die gooikliniek in Bloemfontein bygewoon en afgerig.
Suid-Afrika se topvroue-diskusgooier, Naudé, het ook afrigting gedoen. Die voormalige Vrystater, wat deesdae aan die Hoë Prestasie Instituut van die Universiteit van Pretoria (TUKS) verbonde is, neem ook nog self deel. “Ek het die afgelope paar seisoen met beserings gesukkel, maar het vir die Suid-Afrikaanse Meesterskampioenskappe gekwalifiseer en beplan om binnekort weer voluit deel te neem,” sê sy.
Naudé, wat deur Dup du Plessis afgerig word, keer aanstaande jaar as onderwyseres terug na Sasolburg en sy vertel dat sy gereeld klinieke oor die land aanbied.
“Ek glo ek het nog ’n gro-o-o-t gooi in my en is nie van plan om nou al uit te tree nie,” het diskusgooier, wat die diskus verder as 64 meter gegooi het, gesê.
Die ander afrigters wat by die kliniek betrokke was, Conradie Scheepers, Jan Brits, Conroy Flynn en Telanie Stevens, het ook al sukses behaal en die deelnemers aan die kliniek het dus spesialisafrigting oor die twee dae gekry.
Atletiek Vrystaat kan gerus meer gereeld klinieke van die aard aanbied, want Bloemfontein is sentraal geleë en beskik oor al die nodige geriewe.