Atlete keil mekaar in Grey-mylbyeenkoms op

0
1243

RUFUS BOTHA

Johan Cronjé (Kovsies) is steeds die koning van die Sportsmans Warehouse en Van Rensburg Patoloë se hoërskool Grey-kollege straatmyl in die seniormans-afdeling.

Cronjé het Woensdag dié wedloop vir die derde keer agtereenvolgens gewen in 4:10 gewen. Dit vergelyk goed met sy eie byeenkomsrekord van 4:06, veral as jy in ag neem hy het ‘n goeie ruskans geneem na ‘n strawwe Europese atletiekseisoen.

Maklik het dit egter nie gegaan nie, want nog ’n oud-Grey-leerling (soos Cronjé), Rynardt van Rensburg (Kovsies) het Cronjé harde bene laat kou vir sy oorwinning. Cronjé moes uithaal om voor Van Rensburg (4:11) oor die laaste 100 m te bly. Nog ’n Kovsie, Khothatso Mokone, was derde in 4:21. Blandina Makatisi (Hoërskool Trompsburg, 5:05) was in die meisies o.19 wedloop uitstekend en het die junioratleet van die Kovsies en oud-leerling van die Oranje, Marali Hattingh, wat tweede (5:43) was, ver geklop.

Makatisi het ná dié wedloop besluit sy ry nie slegs vir een mylwedloop Bloemfontein toe nie en tree toe saam met die senior vroue vir haar tweede wedloop aan.

’n Interresante tweestryd het gevolg en Makatisi het deurgaans in die Vrystaat se voorste vroue-middelafstandatleet, Danél Prinsloo (Kovsies), se nek geblaas. Prinsloo was uiteindelik net-net te sterk vir Makatisi en het in 4:53 gewen.

Makatisi het bewys as sy mededinging kry, sy nóg beter kan vertoon en eindig tweede in 4:55 – ses sekondes vinniger as haar eerste wedloop.

In nóg ’n opwindende wedloop het Heinrich Bruhns (Grey) in die seuns o.15-myl met skitterende taktiek die Vrystaat-interhoërkampioen in die 1500 m vir seuns 15-jaar, Nope Molejane (Louis Botha), naelskraap te troef.

Molejane was met sowat 200 m eindstreep toe aan die voorpunt toe Bruhns met ’n ongelooflike eindpoging vorendag gekom het om in 4:40 te seëvier. Molejane (4:41) was slegs een sekonde agter Bruhns met Joseph Mokoteli (Louis Botha, 4:47) derde.