Atleet deurkruis VS ten bate van geweldslagoffers

0
152
Bennie Roux (41)

Bennie Roux (41), ’n ultramarathonatleet van Centurion, gaan aanstaande week honderde kilometers in die Vrystaat aflê om geld vir AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid in te samel.

Luidens ‘n verklaring deur Afriforum is die eenheid in 2015 gestig en het sedertdien uitgebrei weens die toename in misdaad en veral plaasaanvalle.

“Die eenheid lewer ’n baie unieke, persoonlike diens aan slagoffers van geweldsmisdaad – veral slagoffers van plaasaanvalle. Die eenheid het al 238 mense ondersteun, waarvan 38 kinders is.

“Die eenheid verskaf ook kos aan behoeftige slagoffers en bied ondersteuning met byvoorbeeld basiese mediese uitdagings, die voorsiening van klere, hofsake, die afneem van verklarings en, in sekere gevalle, die nodige sielkundige ondersteuning,” lui die verklaring.

Die tema van Roux se veldtog is “Hardloop vir Hoop” en duur van 22 tot 26 Oktober 2019. Roux gaan die volgende roetes volg:

  • 22 Oktober: Hy spring weg in Villiers en hardloop grondpad tot in Frankfort. Hy hou om 13:30 ’n muntlegging by die Hoërskool Wilgerivier in Frankfort.
  • 23 Oktober: Hy spring by die Frankfort-gholfklub weg en hardloop tot in Reitz. Hy hou om 13:30 ’n muntlegging by Hoërskool Reitz hou.
  • 24 Oktober: Hy spring by die Hoërskool Reitz weg en hardloop na Bethlehem. Hy besoek om 17:00 die Christensentrum in Bethlehem.
  • 25 Oktober: Hy spring weg by Lavender Hill op die N5 en hardloop na Fouriesburg.  Daar gaan ’n poeierverfpretloop (colour run) by Fouriesburg Intermediêre skool wees om 12:00.
  • 26 Oktober: Hy spring in Fouriesburg weg en sluit die dag by die Roosfees by die Oranje-asteplaas af.

Die publiek kan ’n bydrae tot die projek lewer deur al die plasings en artikels op AfriForum se Facebook-blad met vriende te deel,  ’n bedrag per kilometer te skenk, of beskikbare pakkette te borg wat vir ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat in aanmerking kom.

info@bloemfonteincourant.co.za