ATKV Tienertoneel ’19 in Bloemfontein

0
226
Jong mense uit alle streke gaan hul staal wys op die ATKV Tienertoneel 2019-kompetisie. FOTO: ATKV

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se Tienertoneel 2019-kompetisie vind vanjaar in Bloemfontein plaas wanneer skole van regoor Suid-Afrika gaan meeding. Die produksies waarvan die hele geselskap (die regisseur(s), skrywer(s), spelers en tegniese personeel) almal hoërskoolleerders is, begin op Maandag 5 Augustus en duur tot Saterdag 10 Augustus.

Die vertonings begin daagliks stiptelik om 16:00 en op Saterdag spook die top-4-produksies sake uit om te bepaal wie die wenners vir die streek is. Die streekfees sal in die Wynand Mouton-teater plaasvind en toegang vir alle vertonings is gratis. Vir die ATKV is die Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar deel van ‘n suksesvolle Suid-Afrika.

Die beoordelaars-paneel sluit onder andere Henrietta Gryffenberg, wat al vir 32 jaar bedrywig is in die vermaaklikheidsbedryf waar sy as aktrise en later as skrywer naam gemaak het, in. Marlo Minnaar, wat as finalis in SABC1 se realiteitskompetisie, Class Act, in 2011 sy debuut as kunstenaar op die televisieskerm gemaak het, is ook een van die beoordelaars.

André Gerber, wat ook sal beoordeel, neem sedert skooldae deel aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie. Gerber het in 2016 die Hoërskool Durbanville se toneelteks, Fragment, geskryf waarvoor hy in 2017 die ATKV Tienertoneelteksprys ontvang het.

Vir meer inligting, kontak Konrad Botha by 076-511-9820. –

info@bloemfonteincourant.co.za