As ons maar net wil spaar

0
754

HORACE TERRY

Gister hoor ek dat die syfers van kleinhandelverkope op is. Dit beteken verbruikers daarbuite hou aan koop en hulle koop meer as voorheen. Aan die ander kant, wanneer jy met mense praat en hoor hoe swaar dit finansieel gaan, vertoon die ekonomie sleg. Brandstof en kos is duur, asook ‘n hele lys ander goedere wat deesdae onbekostigbaar geword het. Iets klop dus nie. Hoe kan syfers wys dat mense meer spandeer, maar aan die ander kant hoor jy weer dat daar nie geld is nie?

Ek weet daar is mense/gesinne daarbuite met wie dit finansieel regtig sleg gaan en dat hulle sukkel om in hul basiese behoeftes te voorsien, maar wat van die res van ons? Juliemaand is Nasionale Spaarmaand, ‘n inisiatief wat daarop gemik is om ons almal net weer bewus te maak van hoekom ons moet spaar asook van die voordele wat genoegsame spaar vir jou kan inhou. Ek dink van die redes hoekom kleinhandelverkope se syfers aanhou styg is omdat mense verkies om eerder te gaan koop as om te spaar. Jy gebruik dus letterlik jou spaargeld om een of ander onbenullige luuksheid te koop. Nog erger is dat mense eerder hulle kredietkaart of winkelkrediet gebruik om een of ander onnodige luukse artikel te gaan koop. Om een of ander rede brand geld in ons sakke ons, dit móét uit.

Om nie te spaar nie is baie gevaarlik. Dinge soos aftrede kom baie vinniger nader as wat ons besef. Teen die tyd dat jy besef jy het te min voorsiening gemaak vir jou aftrede is dit reeds te laat en wat dan? In huidige ekonomiese toestande het afleggings ‘n werklikheid geword vir baie mense daarbuite. Wat gaan gebeur as jy vandag afgelê word? Het jy voldoende fondse in ‘n noodfonds om jou deur die volgende paar maande te sien terwyl jy ander werk soek? Of gaan jy een van die wees wat jou pensioenfonds laat uitbetaal in jou bankrekening sodat dit jou deur die volgende paar maande dra? Gaan begroot weer. Ek is seker jy sal iewers R200 per maand kan afknyp om op ‘n effektetrustfonds te belê. Dis ‘n begin en jy sal verbaas wees waar jou noodfonds oor paar jaar al kan staan.