As ‘n held die pad byster raak

0
973

Die era van fopnuus en kitsinligting oor almal se doen en late het die wêreld onherroeplik verander. Al wat vas en seker is, is dat niks meer vas en seker is nie.

Die “omstredenheid” rondom die toekenning van die 2019-Nobelprys vir letterkunde aan Peter Handke het my weer aan die dink gesit. Handke is volgens alle aanduidings ‘n baie goeie skrywer. As persoon, weg van sy skryfwerk af, ontlok hierdie Oostenryker egter skerp kritiek met sy verregse standpunte, wat onder meer die ontkenning van “deeglik bevestigde oorlogsmisdade” in Bosnië en Serwië insluit.

Dit is ‘n onderwerp wat my nog altyd interesseer. Moet jou beoordeling van mense se werk of nalatenskap (of “kreatiewe produk”) beïnvloed word deur inligting oor ánder aspekte van hulle lewens?

‘n Paar vinnige voorbeelde: Het die destyds hoog aangeskrewe TV-reeks, The Cosby Show, skielik waardeloos geword toe Bill Cosby se gruwelike sondes op die lappe kom? Mag ‘n mens nog ‘n goeie fliek geniet wat deur Harvey Weinstein se maatskappy gemaak is? As ek van die liedjie Pampoen hou, moet ek ophou daarna luister omdat Steve Hofmeyr se politieke standpunte lynreg met myne bots?

Wat van Bob Hewitt? Sy naam is uit tennis se Internasionale Heldesaal verwyder na sy skuldigbevinding. Is dit moontlik om sy afskuwelike dade los te maak van sy prestasies? Of die kunstenaar, Zwelethu Mthethwa, wie se skilderye nou anders beoordeel word ná sy skuldigbevinding aan moord op ‘n sekswerker.

In ons filosofieklas jare gelede het ons dosent altyd gepraat van die “logiese konsekwensies van jou standpunt”. ‘n Wilde voorbeeld: Wat sou ons maak as iemand ‘n wonderkuur vir kanker ontdek, wat alle vorme van die siekte genees, maar dit word later bekend dat die ontdekker van die middel ‘n moordenaar, verkragter, pedofiel of ‘n aartsrassis is? Gaan mense ophou om die medisyne te gebruik?

As daar vandag onomstootlike bewyse na vore kom dat Beethoven destyds met seuntjies gelol het, sal simfonieorkeste ophou om sy werk uit te voer?
In die teorie staan die produk los van die skepper daarvan. Maar dis soms makliker gesê as gedaan.

Albé Grobelaar