Arco vier kwarteeu met glansbal in Ramblers

0
431
Lede van Arco Musica

Die heel eerste Bling and Black Tie-bal wat die afgelope naweek deur Arco Musica aangebied is, was vir jou nou ‘n grênd affêre.

“Die idee het onstaan om ‘n bal te hou wat oud en jonk van begin tot einde op die dansvloer hou sonder langdradige “speeches” en veilings – net ‘n lekker kuieraand,” het Mario Lategan, een van die sanglede van die groep en ook seremoniemeester van die aand, verduidelik.

Die glansgeleentheid wat by Ramblers Club plaasgevind het, het mense weer die geleentheid gebied om hul mooiste rok of aandpak aan te trek en die aand om te dans soos in die ou dae.

“Dit was ook die perfekte geleentheid om jou Valentyn te bederf,” het hy gesê, hoewel dit nie spesifiek daarop gemik was nie. Daar is ‘n besonderse driegangmaaltyd voorgesit en dit, saam met die mooi musiek, het die geleentheid iets gemaak om te onthou.

Oud en jonk het van die eerste noot af begin dans.

Persone wat dit bygewoon het, getuig dat hulle gevoel het asof hulle ‘n regte, egte konsert in ‘n teater bywoon, selfs vir diegene wat nie wou dans nie, was dit ‘n uitsonderlike ervaring wat smaakvol aangebied is. Die musiek is aangebied deur Johan van Deventer, Arend Brink Jr, Richard Reid, Sharon de Kock, Angelo Mockie, Arend Brink, Debbie Brink, Petrus van Wyk, Cézanne Yzelle en Mario Lategan. Hulle het liedjies soos Grande Amore, Copa Cubana, You are the Reason en Simply the Best op hul instrumente gespeel.

Nog ‘n idee agter die konsep was dat oud en jonk weer bymekaar kan kom om saam te kuier, en dit is presies wat gebeur het. Daar was paartjies so jonk as 20 jaar, tot ouer paartjies so oud as 80 jaar wat die glansgeleentheid bygewoon en saamgekuier het.

“Die hoogtepunt van die aand was die glimlag op elke gesig, oud en jonk, die hele aand deur. Mense het dit so geniet! Die dansvloer was van die eerste noot af vol mense van 20 tot 80 jaar oud. Daar was ‘n warm, hartlike gevoel, byna soos op die platteland, hoewel ons in die stad was, en al die Who’s Who was daar.”

Dit wil lyk of die spesiale aand beslis ‘n jaarlikse instelling gaan word, en dit dalk meer as eenkeer ‘n jaar. ‘n Aand van mooi aantrek, lekker eet, goeie musiek en dans.

“Die aand was uiters suksesvol en daar was magic die hele aand deur. Dit het vir my gevoel soos ‘n feesviering en danksegging na die wonderlike reën wat die vreeslike droogte kom breek het,” het Lategan gesê. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za