Arco Musica het oor die jare bekendheid verwerf met die hoë artistieke standaard van hul produksies. Dié bekende Bloemfonteinse musiekgroep wil met hul jongste produksie dié tradisie ‘n trappie hoër vat.
Dié produksie, getilteld The Classic Connection, is ‘n skouspel waar instrumentale gunstelinge uitgevoer word deur ‘n orkes met 14 lede, solo-instrumentaliste en die nuutgestigte Arco- vokale ensemble.
Met The Classic Connection, wat op 25 en 26 Oktober 2019 in die Ramblersklub se balsaal aangebied word, beloof Arco Musica se orkes en vokale ensemble om die gehoor, soos in die verlede, te verras met ‘n stylvolle uitvoering. Debbie Brink is die dirigent en het ook al die musiek vir die konsert verwerk.
Luidens ‘n verklaring is die fokus van die konsert om die virtuositeit van die Arco-instrumentaliste op die voorgrond te plaas, sodat die gehoor opnuut die unieke klank van elke instrument kan waardeer. “Die gebruik van Arco- vokale ensemble saam met die orkes beloof om ‘n grootsheid en dieper musikale dimensie na vore te bring in ‘n paar van die items. Die goue draad wat altyd Arco-konserte belyn, is om ‘n stylvolle tema te kies en dan te verweef met hul keuse van musiek en choreografie.
“Die Ramblersklub se balsaal is juis die geskikte venue om vir hierdie geleentheid ‘n sterk klassieke gevoel na vore te bring, hoewel ‘n paar van die nommers steeds populêre musiek insluit wat aanklank vind by oud en jonk,” lui die verklaring.
Die program vir die aand sluit musiek uit verskillende genres in: The Mission, Adagio van Albenoni, Cinema Paradiso, Broken Vow, Oblivion van Astor Piazolla Vivaldi, Let it go van The Piano Guys, Because we believe, Send in the clowns, The Hands of Man van Chris de Burgh, Gebed van Koos du Plessis asook eie instrumentale komposisies Cello en Per Bianca van Debbie Brink, om net ‘n paar te noem.
Kaartjies vir die konsert is teen R170 per persoon by Computicket beskikbaar. Vir navrae, bel Arco Musica by 083-259-2226.
Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za