Arco Musica vier 3 dekades

0
539
Arco se huidige kerngroep musikante is van links, sittend: Debbie Brink, Wikus van Zyl, Petrus van Wyk, Arend Brink Jnr.; staande: Arend Brink Snr., Andries Mostert, Cezanne Yzelle, en Johann van Devente.

Ná 30 jaar in die plaaslike vermaaklikheidsbedryf, beoog die Arco Musica-groep om vanjaar sy ondersteuners na nuwe hoogtes te neem met onvergeetlike optredes.

Die welbekende Bloemfonteinse musiekgroep wat met uiters bekwame musikante spog, vier vanjaar drie dekakes van puik uitvoerings, en het oor die jare bekendheid verwerf vir hul hoë artistieke standaard.

Besturende direkteur en stigterslid van Arco Musica, Arend Brink Snr., het aan Bloemfontein Courant verklap dat ondersteuners dié jaar na vele verrassings kan uitsien.

“Ons beplan ‘n feesvertoning soos min vir later vanjaar met ‘n 20 stuk-orkes en die meeste van die sangers wat die afgelope 30 jaar saam met Arco opgetree het. Die program sal beslis hoogtepunte uit die verlede insluit,” sê Brink.

Volgens hom beoog die groep ook om “hul vlerke te sprei” noudat Covid-19-regulasies opgehef is. Arco het aanvanklik as ‘n instrumentele trio musiek gemaak en het veral by troues en korporatiewe geleenthede opgetree. Vandag is die groep bekend daarvoor dat hulle klassieke aande en meestal uitverkoopte vertonings aanbied. Die groep bestaan tans uit agt professionele musikante en sangers wat regoor die land optree – van intieme geleenthede tot grootskaalse simfoniese produksies.

Volgens Brink het hul liefde en passie vir musiek hulle die afgelope 30 jaar aan die gang gehou.

“Arco is die Italiaanse woord vir boog. Ons musikante, sangers en tegniese span by Arco is een groot familie wat optree en onder hierdie boog werk.

“Almal by Arco is ewe belangrik in ons vertonings, en ons doel is om altyd op hoogte te bly met die nuutste neigings, style en ontwikkelings in ons bedryf. Ons streef daarna om die beste artistieke en tegniese produksies na ons gehore en kliënte te bring,” het Brink gesê.

Brink se droom vir die groep is om eendag hul boog uit te brei en om meer talentvolle en opkomende musikante binne hul “Arco-familie” te huisves, om hulle die ervaring van die musiekbedryf te gee en hulle as toekomstige musikante op te voed.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za