Aranos slaggereed vir 50ste PRO14-wedstryd

0
1211
Die Nambiese internasionale vaskopstut, Aranos Coetzee, sal die eerste Toyota Cheetahs-speler word om in 50 Guinness PRO14-wedstryde te speel. FOTO: MORGAN PIEK

Die Namibiese internasionale vaskopstut, Aranos Coetzee, sal die eerste Toyota Cheetahs-speler word wat in 50 Guinness PRO14-wedstryde speel wanneer hy Saterdag teen Leinster in die RDS-arena op die veld draf.

Die Cheetahs het Dinsdag na Ierland gevlieg vir hul toer van drie wedstryde, wat ook wedstryde teen Ulster in Belfast en die Dragons in Newport insluit.

Die senter, William Small-Smith, sal na verwagting die naweek in sy 45ste PRO14-wedstryd speel, en kan later in die seisoen dié mylpaal bereik.

Die loskopstut, Charles Marais, wat tydens die 45-0 slagting van die Southern Kings sy terugkeer gemaak het, het reeds 40 PRO14-wedstryde op sy kerfstok. Dit maak van hom ‘n waardevolle lid van die span op die toer.

Breier Hawies Fourie het aan Bloemfontein Courant gesê hy is verheug om ‘n speler van Coetzee se gehalte op die toer te hê.

“Hy is een van die beste skrumwerkers in die kompetisie en dit help ons baie. Baie van die spanne skrum vir strafskoppe en dit plaas jou onder druk as jou vaskop nie op standaard is nie.

“Vir my geld dieselfde vir Luan de Bruin, wat regtig naby Aranos is. Ek dink nog steeds dat Aranos ‘n effense oorhand het in die skrum, maar oor die algemeen speel Luan as uitsonderlike vaskop.

“Hy komplementeer Aranos ook op dieselfde manier wat ons wil hê Wilmar Arnoldi vir Joseph Dweba en Boan Venter Charles Marais moet ondersteun.

“Dit is lekker om die drie voorrymanne na 45-50 minute op die veld te stuur en hulle te vra om skade te verrig.”

Met die onlangse vertrek van die Springbok, Ox Nche, na die Haaie, was daar effens druk op die loskop-afdeling, en Fourie is baie bly om die groot man, Marais, in die nommer een-trui te hê.

“Ons het hom gedurende die eerste deel van die seisoen gemis. Ons moes Erich de Jager na loskop skuif en ons moes Luan op loskop probeer om net dekking te bied totdat hy van sy besering herstel het, so dit is wonderlik om hom terug te hê.”

Leinster en die Cheetahs stamp Saterdagmiddag in Dublin om 16:30 koppe. – MORGAN PIEK