Applous-koorfees vandag in Bloem

0
355

Daar is groot opgewondenheid oor die ATKV-Applous 2022 Koorfees wat weer in volle glorie terug is.

Die Vrystaat Streekfees, wat vandag by die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein gehou word, sluit vanjaar 183 kore uit alle gemeenskappe in.

Voglens die ATKV blyk die vreugde van koorsang duidelik uit die meer as 11 900 koorlede  wat ingeskryf het vir ATKV-Applous.

Die room van die Vrystaat se kore sal tydens die streekfees optree. Kore sing elkeen ’n eie keuse van ‘n Afrikaanse koorwerk deur ’n Suid-Afrikaanse komponis, ‘n eie keuse in een van die amptelike Suid-Afrikaanse tale, buiten Afrikaans en Engels, asook ‘n koorlied in enige taal van die koor se keuse.

Wat die kompetisie uniek maak, is die feit dat daar jaarliks nuwe koorwerke geskep word wat aan die kore voorgeskryf word. Dit is dus koorsang wat die publiek nog nooit vantevore gehoor het nie.

Die eindrondes vind vanjaar in die noorde en die suide van die land plaas. Die eindronde in Pretoria word van 28 tot 30 Julie op die Unisa-kampus gehou en die eindronde in Stellenbosch vind van 4 tot 6 Augustus op die Maties-kampus plaas.

Vir navrae, bel Braam de Kock by 011 919 9012 of Bessie Keun by 082 454 6060.

Sazly Moses

sazly@mahareng.co.za