Appel val nie ver van die boom

0
4336

Alzane Narrain

Die onderneming Kareekop Bome is gebore uit ‘n ware passie vir bome. Herlo Laubscher is ‘n sestienjarige seun wat sy stokperdjie, die groei van klein boompies tot enorme bome, in ‘n winsgewende besigheid omskep het. “Een middag het mense by ons hek gestop en gevra of ons van die bome verkoop.  “Ek het die moontlikheid van ‘n besigheid gesien. Ek het my eerste boom verkoop en sommer aangebied dat ons dit ook plant. My pa was bly dat ek die boom verkoop het, maar het my vinnig ingelig dat ons nié bome plant nié. Dit kan in die toekoms verander," vertel Herlo trots.

Herlo se pa, Johan, self ‘n gesiene sakeman in die stad, het sy seun die basiese sakebeginsels geleer en so het die stokperdjie in ‘n "besigheid" ontaard.  Herlo het aanvanklik gedink dat hy eers na skool ernstig sou raak oor sy besigheid, maar dit het so gegroei dat hy dit self nie kan glo nie.  "Ek wil een van die grootste boomverskaffers in die land wees. Ons brei feitlik elke dag uit, maar vir die volgende twee jaar is dit nog skool. Intussen droom ek elke dag,” sê Herlo.
Kareekop Bome het tans baie inheemse bome wat wissel van 20 liter (die grootte van die sak waarin die boom geplant is), tot 200 liter.

Herlo is baie opgewonde oor die eerste paar 1 000 liter-bome wat eersdag geplant gaan word.  Die gewildste bome is volgens Herlo die vaderlandswilger en wit karee, maar daar is baie ander soos die swart karee, koorsboom, doringboom, olienhout, papierbas en blinkblaar. Vir Herlo is dit baie belangrik om die regte bome in die regte area te plant, daarom fokus hy op bome wat in die Bloemfontein-omgewing voorkom. "Ek en my pa soek self ons bome uit as hulle nog baie klein is. Ons plant hulle dan in ‘n spesiale komposmengsel in groter sakke oor.

Ons kweek dan groot bome, maar koop ook bome groothandel aan soos op aanvraag," verduidelik Herlo.
Herlo het groot planne om na skool sy besigheid uit te brei na ‘n volwaardige kwekery wat nog meer bome sal verkaf en plant vir ontwikkelaars en privaat persone in en om Bloemfontein. Intussen het hy smiddae na skool steeds goeie raad vir baie mense wat weekliks sy ‘kwekery’ besoek. Waar vind mens Kareekop Bome?
Die ‘kwekery’ is geleë oorkant Emoya Estate en word tans alleenlik op afspraak bedryf.
Klante word gewoonlik laat in die middag (na skool) gehelp wanneer dit nie so warm is nie en hulle rustig tussen die bome kan deurloop en raad vra.