Annemé skitter by Sentraal- uitnodigingsbyeenkoms

0
319
Annamé Fourie het Vrydag by die Hoërskool Sentraal se uitnodigingsatletiekbyeenkoms in Bloemfontein met ‘n blitsige 100m in die afdeling vir meisies 17-jaar losgetrek. FOTO: MILLIE VAN WYK

Die begaafde naelloper van die Hoërskool Jim Fouché, Annamé Fourie het Vrydag by die gewilde uitnodigingsatletiekbyeenkoms van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein met ‘n blitsige 100 m in die afdeling vir meisies 17 jaar ontplof.

Dit het gebeur voordat die byeenkoms tot ‘n halt geroep is toe blitse en donderweer opgesteek het by die Mangaung-atletiekstadion. Die organiseerders moes die byeenkoms voor die einde staak weens gevaarlike weersomstandighede.

Fourie was soos ‘n blits uit haar blokke en het in ‘n uitmuntende 11,86 oor die eindstreep genael. Daar was weliswaar ‘n wind van agter in haar guns, maar die windmeterlesing van 1,8 meter per sekonde was binne die toelaatbare sterkte van twee meter per sekonde vir rekorddoeleindes en sy het in die proses die byeenkomsrekord verpletter.

Sy het die tweede en derde atlete van die Hoër Volkskool Potchefstroom, Janca Fouché (12,25) en Jané Botha (12,57) kis genael.

Fourie was in die 200 m eweneens indrukwekkend met haar wentyd van 24,96 en haar tye maak haar beslis ‘n aanspraakmaker vir ‘n podiumplek by die SA skolekampioenskap.
Sy het in die 200 m die silwermedaljewenner, Robin Thorburn (Hoër Volkskool Potchefstroom, 25,62) en Fouché (26,00) ook uitgestof.

Van die verwagte titaniese tweestryd tussen twee van Bloemfontein se kranige naellopers, Keenan Cloete (Jim Fouché) en Lucky Molenyane (Grey) het nie veel gekom nie.

Hoewel Molenyane vanjaar nog in die ouderdomsgroep vir seuns 16-jaar deelneem en Cloete in die 17 jaar-afdeling, was daar by dié byeenkoms slegs ‘n afdeling vir seuns 17 jaar. Daar was egter groot opgewondenheid oor die tweestryd tussen dié blitse, want albei van hulle het vanjaar reeds kookwater 100 m- en 200 m-tye aangeteken.

Die byeenkoms is gestaak voor die 100 m beslis kon word, maar Cloete en Moleyane het saam met heelparty kookwater-besoekers koppe gestamp in die 200 m.

Moleyane se wegspring was skitterend, maar toe Cloete eers op spoed kom, was dit eenrigtingverkeer. Hy wen in ‘n puik 21,45 en Moleyane (21,82) was sowat drie meter agter hom. JJ Snyders (Hoërskool Upington, 21,56), wat in ‘n ander wedloop genael het, het nadat die uitslae gekombineer is, ook vir Moleyane (3de) geklop. Daar was nie uitdunne en later eindrondes nie. Waar daar meer as een wedloop per nommer was, het die beste tye van die onderskeidelike eindrondes die plekke bepaal.

Heelparty skitterende vertonings is by dié goed georganiseerde byeenkoms opgedis voordat die donderweer ‘n einde aan die byeenkoms gebring het. – RUFUS BOTHA