Al is sy oorspronklik van Kimberley, swot Annchen de Lange tans by die FBI-sjefskool in Bloemfontein. Dié jong sjef in wording het aan die Guru Nanak Instituut van Hotelbestuur se negende Wêreldkoskompetisie in Indië deelgeneem en in die koekversieringskategorie gepresteer.
De Lange het by haar ouma geleer kook, en vinnig lief geraak daarvoor, maar erken dat sy verras was om gekies te word vir dié kompetisie, maar dat sy ook opgewonde was om deel te neem.
“Dit was ’n wonderlike ondervinding om soveel nuwe lande te ervaar en mense te ontmoet en saam met hulle te werk,” het De Lange aan Bloemfontein Courant vertel. Sy het saam met ander sjefs gesit en met nuwe idees vorendag gekom vir dié kompetisie.
“Ná al die besprekings was ek elke dag in die kombuis om my disse en my koek te oefen,” het sy gesê.
Daar was verskeie kategorieë wat eers afgehandel moes word voordat De Lange deelgeneem het, maar op die derde dag van die kompetisie het sy die kans gehad om haarself te bewys in koekversiering.

toekenning ontvang het.
“Op ons laaste dag het ons die kookkompetisie gehad, waar ons ’n sop, hoofgereg, en nagereg moes maak wat tradisioneel Suid-Afrikaans was,” het sy vertel. “Daardie aand het ons die prysuitdeling gehad waar almal hul toekennings gekry het.”
De Lange verduidelik dat sy nie oorspronklik op die kompetisie gefokus was nie en dat haar klaswerk en punte vir haar die prioriteit was.
“Ek was baie opgewonde oor die geleentheid self en om as die eerste naaswenner gekies te word, was absoluut wonderlik,” het sy vertel. “Om op daardie verhoog te staan en te weet al my vriende by die huis was besig om my aan te moedig en my eindeloos te ondersteun, was regtig op sy eie ’n groot prestasie!”
De Lange beplan nou om ’n jaar in Naples, Florida, in die VSA deur te bring en daarna terug te keer na Suid-Afrika.
“Ek beplan om my ambagstoets te skryf en dan ’n gekwalifiseerde sjef te word,” het sy bevestig.
“Ek wou nog altyd my eie bakkery gehad het,” het De Lange gesê, “so nadat ek genoeg kennis opgebou het oor alles wat daar is om te weet oor bak, sal ek graag eendag my eie bakkery wil oopmaak.”
Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za