Anna kuier in die Laan

0
2839

MARICELLE BOTHA

Leun ’n bietjie terug, raak gemaklik op jou rusbank, want dit is tyd vir 7de Laan. Hoewel ons elke weeksaand in ‘die laan’ kuier weet ons maar min wat agter die skerms aangaan. OFM se Anna Visser het onlangs op die stel van hierdie gewilde sepie gedraai en het met Courant oor haar ervaring gesels. Sy lag uitbundig as ek oor haar rol uitvra. “Noem dit eerder ’n rolletjie-kie. My een dag op stel het letterlik uit ’n paar woorde bestaan. Ek het nie eers ’n voornaam nie,” lag sy.

“Ek is mev. Du Plessis, mev. Pierre du Plessis en dit is ook my eerste lyn,” lag sy. Een van die meisies in die storie het ’n liefdesverhouding met ’n man wie se rol Visser vertolk. Totale ontnugtering tree in as ‘Mev. Du Plessis’ vertel dat sy al ’n geruime tyd met die man getroud is en hulle drie kinders het, maar meer wil Visser nie verklap nie. “Ek kom in maak geraas, gooi bietjie ’n scene en dan loop ek weer.” Sy vertel dat ’n dag op 7de Laan se stel nogal rof is. “’n Mens dink altyd sepies is fluffy, maar jy kry jou teks die dag voor die tyd, dan moet jy die woorde ken teen die tyd wat jy by die werk kom. En soms maak hulle eers 18:30 klaar. Jy moet die woorde teen die volgende dag vlot ken en met presisie, want as jy ’n ‘dat’ en ’n ‘wat’ omruil, skuif die kamera nie.” Sy voeg by dat die akteurs soggens sowat 10 minute kry om te blok. Dit beteken hulle word gewys waar hulle staan en hoe hulle moet draai. Dan het hulle repetisie, daarna is dit hare en grimering. En dan begin hulle skiet. Sy vertel dit neem sowat 10 tot 15 minute om aan ’n toneel te skiet.

“Die akteurs was almal baie gaaf, vriendelik en hulpvaardig. Vir hulle is dit glad nie so scary om al daai woorde te leer nie. Wanneer hulle nie besig is om tonele te skiet nie, gesels hulle, dan oefen hulle hul lyne, dan lees hulle Google grappies.” Wat is daar wat ons as lesers nie weet nie? “Dit is nie glamorous nie, al die vrugte in die deli is plastiek en al die glase is leeg!” glimlag sy.

Die episodes waarin Visser te sien sal wees sal op 21 en 22 Maart uitgesaai word.