Angel Hearts hou Moedersdag-mark

0
727
Van links voor is Elizabeth Senatla, Nthabiseng Olifant en Gloria Oersen. Agter van links is Sammy Number, Richard Seotlela, Koos Setlhabi en Karen Kemp.

Die Angel Hearts-werkswinkel vir mense met gestremdhede hou Saterdag 8 Mei 2021 saam met Sugar Rush hul Moedersdag-mark en nooi Bloemfonteiners uit om die dag saam met hulle te kom geniet.

Dié nie-winsgewende organisasie het in 2005 in Bloemfontein geopen. Mense met gestremdhede word met baie liefde by Angel Hearts geleer hoe om hul kreatiwiteit uit te leef.

Stigter en bestuurder, Karen Kemp, het hierdie werkswinkel begin nadat sy die groot behoefte vir gestremde mense, wat in staat is om handvaardighede aan te leer en iewers in die samelewing in te pas en te funksioneer, raakgesien het.

Volgens Kemp sal mense hier ‘n verskeidendheid artikels kan koop, veral diegene wat op soek is na iets spesiaals vir ‘n spesiale vrou in hul lewe. Terselfdertyd word mense met gestremdhede ondersteun en waardeer. Daar sal heerlike eetgoed, drinkgoed en baie mooi handgemaakte geskenke vir mamma en ouma te koop wees. “Alles gemaak deur ons mense met gestremdhede.

“‘n Verrassing op die dag is dat Gerduan Kemp sal saamkuier om belangstellendes bederf met lewende musiek.

Almal is welkom om die dag saam met Angel Hearts te kom geniet en die organisasie te ondersteun.

Die Moedersdag-mark sal by die werkswinkel wat by Leviseurstraat 4B, Westdene, Bloemfontein geleë is, plaasvind, van 09:00 tot 13:00.

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za